Leon van Nierop se fliekresensie: 1917

1917
Met George MacKay en Dean-Charles Chapman
Regisseur: Sam Mendes

Om hierdie andersoortige oorlogfilm behoorlik te verstaan, en baie resensente noem dit “die beste rolprent wat nog oor oorlog gemaak is”, moet ʼn mens die sogenaamde “enkelskoot tegniek” onder die knie kry.

Sam Mendes het die beroemde kinematograaf, die multibekroonde Roger Deakins, opdrag gegee om die hele storie in een skoot te skiet. Daar mag dus geen merkbare redigeerpunte wees nie. Dit moet lyk asof ons die stryd saam met die manskappe in die werklike tyd deurbring waarin die insident plaasvind. En dit maak 1917 so uniek. Daarom moet jy dit in Imax of Xtreme-teaters sien. Want jy is saam met die soldate binne en buite die loopgrawe. Jy val deur modderpoele, duik weg vir vliegtuie en sien hoe die dood aankom.

Die immer-bewegende kamera snel saam met twee manskappe deur ʼn niemandsland besmet met bomme, lyke en skrapnel. Dit rondomtalie, draai, val, duik, koets en gly voor die karakters uit terwyl bomme rondom ons en hulle val. Selde tevore het ʼn kamera so intens deelgeneem aan die aksie. En is oorlog so realisties uitgebeeld sonder om dit “gehoorvriendelik” te maak.

Die rolprent is op ʼn ware insident gebaseer, skynbaar oorvertel deur een van Sam Mendes se voorsate. Twee Britse soldate word deur hul bevelvoerders opdrag gegee om ʼn lewensbelangrike brief deur gevegslinies en buite die veiligheid van die loopgrawe te gaan aflewer. Daarvolgens word ʼn aanval gekanselleer en afgestel, want die Duitsers is besig om die Britte in ʼn lokval te lei waarin 1 600 manskappe afgemaak sou word. Ons maak die reis mee.

1917 is soos niks wat jy al in ʼn oorlogfilm gesien het nie. Die naaste hieraan is Kubrick se Paths of Glory en Kubrick se Full Metal Jacket. Maak jouself gereed om self in die loopgrawe weg te duik en vir bomme te koes. Die uitmuntende rolprent is pas vir 10 Oscars benoem, onder andere as beste rolprent.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.