Leon van Nierop se resensie: Dog

DOG  ***
Met Channing Tatum en Ethan Suplee
Regisseurs: Channing Tatum en Reid Carolin

Channing Tatum is nie net ʼn mooi gesiggie (en lyf!) nie. Hy kan regisseur ook wees! Hierdie gewilde macho vleispaleis met die koel houding, het nou ʼn aangrypende rolprent gemaak (gebaseer op die waarheid) van ʼn soldaat (army ranger) wat opdrag kry om sy oorlede oorlogskameraad se hond na dié se begrafnis te vergesel.

Die hond is natuurlik erg getraumatiseerd en onwillig. Hy is aanvanklik aggressief en wil net baklei. Om die waarheid te sê: nie alleen breek hy uit sy hok in Briggs (Tatum) se motor nie, hy verskeur sommer ook een van sy sitplekke. Tot die motor ook later ingee!

Die dier kan nie begryp wat van sy afrigter, baas en kameraad geword het nie. Dit kos al Briggs se geduld en oorredingsvermoë om die brak te oortuig dat hy nie die vyand is nie, en hom net wil help. Maar hoe kry ʼn mens dit reg? Deur uit die dier se oogpunt na die situasie te probeer kyk.

Hierdie stil, sterk, grootliks onsentimentele film handel oor die band tussen dier en mens. Maar gaan ook oor toewyding, die gruwels van oorlog en geduld, want Briggs sal enigiets vir sy vriend doen, insluitende om ʼn hond, wat als wil byt en verwoes, mak te maak en na sy baas se graf te vergesel.

Dit is dus eintlik, wat die Amerikaners so graag noem, ʼn road-trip-rolprent. Die grootste deel van die fliek speel op die pad af, en die kamera wys graag die wyd, uitgestrekte vlaktes van Amerika, en konsentreer ook op die foute wat Briggs maak. Ja, hy is nie net ʼn vlekkelose en onselfsugtige held nie.

Meer kan nie verklap word nie. (Die plakkaat wys bietjie te veel), maar daar is niks wat Briggs stuit om sy belofte aan sy maat uit te voer nie. En hy het meer uithouvermoë as die hond! As die laaste tonele nie ʼn knop in jou keel bring nie, het jy nie ʼn keel nie!

Veral diereliefhebbers en honde-opleiers se gek wees hieroor. Dog sal jou deur ander oë na oorlog, toewyding en vriendskap laat kyk. Slegs in fliekteaters.

Die fliek is by Ster-Kinekor  en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.