Leon van Nierop se resensie: Invisible City

Invisible City     ***
Met Marco Pigossi en Fabio Largo
Regisseur: Luis Carone

Nogal ʼn rare drama hierdie een, daarom word dit saam met die meer konvensionele News of the World geresenseer. Dis vir lesers wat daarvan hou om te eksperimenteer, wat soms kopkrap, wat vir mekaar vra: Is hy nou ʼn dolfyn of ʼn mens? En: “Wie is nou dood en wie lewe eintlik?”

Dit is ʼn Brasiliaanse byna surrealistiese, mitiese rolprent met byskrifte, heeltemal anders as die soetsappige Bridgerton wat almal so gaande het en al oor ʼn honderd miljoen keer gekyk is! Maar dit ref jou brein se enjin in die rooi! Jy moet dink, uithaal en wys en byhou, boeta!

ʼn Speurder, gespeel deur die gesaghebbende en super-aantreklike Marco Pigossi, ontdek ʼn dooie pienk dolfyn wat op ʼn strand uitgespoel het maar wat dalk ʼn mens in ander gedaante kan wees… Daar is ook ʼn mitiese voël wat deur bosmense geskiet word, en ander vreemde goeters en diere wat hul lewens verander. Wat is werklik en tasbaar, en wat nie? Dis wat hierdie moeilike drama vra!

Dit word geresenseer vir mense wat graag in hul verbeeldings delf en wonder presies wat aan gaan, maar uiteindelik beloon sal word.

En vroue wat Pigossi gesien het, seker een van die mees aantreklike sterre van die Brasiliaanse rolprentbedryf, sug dikwels gelate: “Ai, mooi was nog nooit lelik nie…” As hy net nie in ʼn skoenlapper verander nie…

Met byskrifte en uitdagend. Op Netflix. Vir ʼn uitgesoekte smaak.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.