Luister: Studenteprojek word volwaardige rolprent met ‘Die Parkie Storie’

Luan Lauw in ‘Die Parkie Storie’. 

Die Parkie Storie het jare gelede as ʼn lawwe studenteprojek op filmskool begin en is uiteindelik tot ʼn vollengte rolprent ontwikkel wat tans op Showmax te sien is.

Só vertel Luan Lauw, Pierre Malan en Louis Gagiano, skrywers en vervaardigers van dié nuwe Afrikaanse rolprent.

Die fliek handel oor Luan, ʼn jong man wat ten alle koste sy geliefde Yvette en sy broer, Austin (Austin Coetzee), teen booswigte moet beskerm wanneer hulle gunsteling-plek – die parkie – in gedrang kom. Een van dié booswigte is Luan en Austin se verlore broer, Pierre.

Wat die skurke egter nie weet nie, is dat die broers se pa hulle van kleins af gevegskuns geleer het en hoewel Luan soos ʼn saggeaarde man voorkom, hy nie skroom om dit wat sy pa hom geleer het te gebruik nie.

Malan en Lauw het mekaar op filmskool aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) ontmoet. Malan is tans werksaam by Forum Films terwyl Lauw vryskutwerk in die rolprentbedryf doen.

“Destyds toe ons die kortfliek gemaak het, het ons klasmaats baie daarvan gehou en ons het dit op die internet geplaas,” vertel Malan, wat die draaiboek geskryf en die fliek regisseer het. Hy is ook te sien as die booswig Pierre.

“Later het ʼn paar vervaardigers my gekontak om die fliek tot ʼn vollengte rolprent te ontwikkel. Kinderflieks soos Agent 2000 en Hoofmeisie het toe begin draai en die vervaardigers wou Die Parkie Storie as ʼn kinderfliek skiet. Ek het egter hardkoppig daarteen geskop omdat ek gevoel het die storie het ʼn donker kant wat ook vertel moet word.”

Die fliek is uiteindelik in 2018 deur Forum Films geskiet en vervaardig. ʼn Span van sowat 50 mense het reg deur 2019 aan die rolprent gewerk en dit het uiteindelik vanjaar die lig gesien.

“Ons het die fliek in die hartjie van die winter geskiet en dit was by tye moeilik aangesien dit gereën het en mistig was. Ons het ook nie ʼn noemenswaardige begroting gehad nie en moes baie op gunste van ander mense staat maak. Dit is ook hoofsaaklik die rede waarom ons self in die rolprent speel,” verduidelik Malan.

Bekendes soos Chris Chameleon, Angelique Potgieter, Robbie Wessels en Riaan Cruywagen verskyn ook in kameerolle. André Odendaal, Lilani Prinsen Potgieter en Emil Haarhof is ook in die rolprent te sien.

Daar was egter nooit planne om die rol van Luan vir ʼn ander akteur te gee nie. “Op filmskool het die ouens gereeld van Luan gebruik gemaak om in hulle rolprente te speel, want hy is ʼn talentvolle ou wat mense maklik na hom toe aantrek. Ek en Luan het ook nog altyd ʼn goeie chemistry op skerm.”

Dié twee is ook saam te sien in Kritikus, ʼn fliekresensieprogram wat ook deur Forum Films vervaardig word.

Pierre Malan, Luan Lauw en Austin Coetzee tydens die première van ‘Die Parkie Storie’. (Foto: Verskaf)

Volgens Gagiano was die redigeringsproses ʼn uitgerekte een aangesien daar baie spesiale effekte, grafika en klankredigering was om te doen.

Die Parkie Storie was ʼn passieprojek wat ons ná ons daaglikse verpligtinge aangepak het. Ons wou eerder ekstra moeite daarmee doen as om dit af te rammel want die doel was om ʼn goeie fliek te maak terwyl ons ons eie talente uitoefen,” sê Gagiano.

Die span het ook hul eie waaghalstoertjies gedoen. “Dit raak nogal seer om heeltyd op die gras neer te val. En my voete het blase gehad van al die toertjies wat ek in plakkies moes doen,” vertel Lauw.

Volgens Lauw is die fliek nie noodwendig vir jong kinders gemaak nie, maar vertel dat hulle dit ook sal geniet. “Daar is wel ʼn ouderdomsbeperking op van 16. Dit is ʼn fliek wat homself nie te ernstig opneem nie.”

Gagiano beaam dit. “Dit is ʼn lighartige fliek waarin jy vir 50 minute kan ontsnap na ʼn ander wêreld.”

Die Parkie Storie is nou op Showmax te sien.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Hier is die amptelike lokprent van DIE PARKIE STORIE. Forum Films Dapper Media Kritikus Robbie Wessels Chris Chameleon Angelique Gerber Riaan Cruywagen André Odendaal Showmax

Posted by Die Parkie Storie on Friday, September 18, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.