Nicola, Diaan gesels oor rolle in ‘Hans’-fliek

Nicola Hanekom as Matrone. (Foto: kykNET)

Vir beide die gesoute aktrises Nicola Hanekom en Diaan Lawrenson was dit ʼn “reuse-voorreg” om saam met veteraanakteurs soos Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, June van Merch en Sandra Prinsloo in die fliekweergawe van Hans steek die Rubicon oor te verskyn.

Die fliek het Saterdag 29 September in fliekteaters landswyd begin draai. Hans steek die Rubicon oor is ook in Augustus met groot lof ontvang op die jaarlikse kykNET Silwerskermfees, met die regisseur Corné van Rooyen wat die toekenning vir beste regisseur ingeoes het, terwyl Pierre die prys vir beste akteur vir sy hoofrol as Hans gewen het.

Hans steek die Rubicon oor vertel die verhaal van Hans van Kraaienburg, ʼn hupse 90-jarige man wie se lewe omvergewerp word wanneer hy gedwing word om na die Huis Madeliefie-ouetehuis te trek.

Huis Madeliefie is verkramp en sy kamertjie is piepklein, en dan word Hans boonop gedwing om verskeie reëls en regulasies te gehoorsaam.

Met Hans in die omtrek kan jy egter net sports verwag en kort voor lank is daar ʼn ouetehuis-opstand, daggakoekies en ontkleedansers, alles as deel van Hans se “oudword op eie terme”.

Pierre van Pletzen as Hans. (Foto: kykNET)

Nicola vertolk die rol van die rigiede, streng Matrone terwyl Diaan in ʼn ondersteunende rol as Karla, Hans se dogter wat besluit dis tyd dat haar pa ouetehuis toe gaan, vertolk.

Nicola vertel aan Maroela Media die tydperk op die stel van die fliek het nie gevoel soos werk nie.

“Dit was groot sports, maar die ouer garde is ook supersterre wat sonder ego werk. Dit is hierdie ongelooflike mense wat op TV en in flieks was toe ek ʼn kind was, maar hulle is almal lieflike en nederige mense wat uiters hardwerkend as akteurs is.

“Dit was werklik ʼn eer en heerlike reis om saam met hierdie span mense te werk.”

Diaan beaam dit, al het sy en Pierre lank saam op die stel van die sepie 7de Laan gewerk, en het sy in haar beginjare as aktrise onder leiding van Sandra gespeel.

“Ek en Pierre het ʼn natuurlike konneksie, so dit het geen inspanning geverg om sy dogter te speel nie. Ek ken sy vrou ook baie goed en ons kon moeiteloos en maklik bymekaarkom tydens emosionele tonele. Ek het soveel by hom geleer op die stel van die Laan toe hy regisseur was, en ek het baie respek vir hom as akteur en tegniese regisseur.”

Nicola Hanekom, Ivan Abrahams, Tobie Cronjé, Pierre van Pletzen en Diaan Lawrenson by vanjaar se kykNET Silwerskermfees. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Diaan het ook voorheen saam met Corné en sy vrou, René, aan die fliek Susters gewerk. “Vir my gaan die werk deesdae oor verhoudings, en dit is lekker om verhoudings te bou op stel en die voorreg te hê om weer saam met Corné te werk.”

Hoewel sy met Hans steek die Rubicon oor slegs in ʼn ondersteunende kapasiteit betrokke is, was dit vir haar ʼn riem onder die hart om te sien hoe die span van die fliek vanjaar op die Silwerskermfees erkenning kry vir die werk wat hulle gedoen het om Rudie van Rensburg se roman op die grootskerm te laat gestalte kry, sê Diaan.

“Pierre was vir so lank as Oubaas (van 7de Laan) gesien en die fliek, asook die fees, het ʼn platform geskep vir hom om meer as dit te wees. Dit maak my trots om selfs net ʼn klein deeltjie in die fliek te hê.”

Al is Karla net ʼn ondersteunende karakter, verteenwoordig sy alle kinders van ouers wat ouer word en die bekommernis oor hulle veiligheid en emosionele versorging, sê Diaan.

“Ek het probeer om ʼn sensitiwiteit na die karakter te bring, want dit is vir alle kinders moeilik om daardie besluit vir hulle ouers te maak.”

Sy sê die terugvoer wat sy oor die fliek kry, is dat die storie voel soos ʼn ligte blik op ʼn man se verhaal, maar dat daar ook dieper vlakke tot die storie is, soos heimwee en verlange.

“Dit is wat Hans so spesiaal maak, want ons kan vir hom en sy vriende lag, maar tog is daar ʼn dieper kykie na wat dit beteken om oud te word op jou eie terme, en die lewe te lei soos jy kan. Die gehore het ʼn diep waardering vir wat Hans as ʼn fliek probeer doen, want dit sê baie oor hoe ons ons ouers sien en hoe ons wil ouer word.”

Hans steek die Rubicon oor is nou in fliekteaters landswyd te sien.

Wen

Vyf gelukkige lesers kan elkeen ʼn kopie van Rudie van Rensburg se roman, Hans steek die Rubicon oor, wen.

Vul die kompetisievorm in om in te skryf. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 19 Oktober om middernag. Die wenners sal per e-pos in kennis gestel word.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 19 Oktober om middernag.
  • Die wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Die prys kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.