Nuwe aanlyn formaat vir vanjaar se Silwerskermfees

Die Silwerskermfees 2020 sal in ‘n digitale formaat aangebied word.

Die 10de jaarlikse kykNET Silwerskermfees, wat die afgelope paar jaar in Kampsbaai aangebied is, gaan vanjaar ʼn nuwe baadjie aantrek en in ʼn ander formaat aanlyn aangebied word.

Die fokus vir vanjaar se fees is op produksie, die ontwikkeling van kortflieks en ander opwindende en belangrike aspekte van die rolprentbedryf.

“Die uitwerking van die pandemie het die produksie van alle nuwe werk wat vir vanjaar se fees vervaardig sou word, vertraag,” sê Karen Meiring, direkteur van M-Net: kykNET-kanale.

“Ons moes gevolglik al ons projekte en ons benadering tot vanjaar se fees heroorweeg. Met hierdie uitdagings het ons ook nuwe geleenthede raakgesien en ons is opgewonde oor die insluiting van internasionale vennote om saam te werk, te inspireer en noodsaaklike bedryfskennis met Suid-Afrikaanse rolprentmakers te deel.”

Die eerste kykNET Silwerskerm-webinaar sal van 2 tot 4 September plaasvind en sluit in gassprekers en fasiliteerders van oor die wêreld. Die fokus sal wees op internasionale vennootskappe, finansiering en nuwe maniere van vervaardiging in die rolprent- en televisiebedryf.

Sprekers sluit in verteenwoordigers van SXSW, Berlinale, die Sydney-rolprentfees, die Britse Rolprentraad en Fremantle Media in Australië. Die volledige program sal Woensdag 12 Augustus beskikbaar wees.

Registrasie vir dié drie dae lange webinaar kos R150 en sluit toegang tot alle sessies, eksklusiewe premières van Suid-Afrikaanse rolprentmakers, virtuele wegbreekruimtes (breakout rooms) vir intieme vraag-en-antwoordsessies asook ʼn werksessie oor finansiering wat deur Wesgro gefasiliteer word.

Twee eksklusiewe premières van plaaslike speelfilms sal via die DStv-platform BoxOffice vertoon word. Die tiende jaarlikse kykNET Silwerskermfees was oorspronklik beplan om vanaf 24 Augustus in Kampsbaai plaas te vind. Weens die verandering in formaat is die Kortfliek-kompetisie verleng met ʼn nuwe fokus op draaiboekontwikkeling.

Ander feesinisiatiewe sal ook voortgaan met uitgestelde sluitingsdatums. Een van hierdie projekte is die Draaiboeksoek-kompetisie, wat by die kykNET Silwerskermfees in 2019 aangekondig is. Hierdie inisiatief fokus op die ontwikkeling van nuwe tekste. Die sluitingsdatums vir die Draaiboeksoek-inskrywings is uitgestel tot 29 Januarie 2021.

Daar sal dus veel meer tyd vir ontluikende skrywers en skeppers wees om hulle idees te ontwikkel en te verfyn. Rolprentmakers wat bestaande rolprente wil inskryf vir moontlike vertoning by die 2021-fees, het ook tot 29 Januarie 2021 tyd om in te skryf.

Besoek Silwerskermfees se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.