Roeline Daneel gereed vir nuwe rol as ma van twee

Roeline Daneel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ʼn Volwasse energie en moederlike aanslag was dikwels die rede waarom Roeline Daneel telkemale die rol van ʼn ondersteunende vriendin moes volstaan. Vandag is dit juis dié eienskappe wat deur na deur vir haar laat oopswaai.

Dié 38-jarige aktrise is veral bekend vir haar rolle in reekse soos, Arendsvlei, Die Boekklub, Fraksie en Fynskrif en is tans besig om voor te berei vir een van haar grootste rolle nog: ʼn ma van twee.

“Dit is natuurlik opwindend wanneer ʼn mens se familie uitbrei, maar ʼn mens moenie vergeet dat dit op baie maniere ook vreesaanjaend is nie,” het Roeline, wat reeds die ma van ʼn vierjarige dogtertjie is, aan Maroela Media vertel. Sy verwag haar tweede kind in Oktober.

“Ek en my man, Werner, is albei ouer ouers. Om weer kans te sien vir die laat nagte is ʼn groot uitdaging. Ons is bang, maar in my opinie is dit ʼn goeie ding.”

Dié gesin van drie is in rep en roer ter voorbereiding vir die nuwe gesinslid se koms. Nie net word hul huis herbeplan nie, maar daar word ook geestelik voorberei vir die verantwoordelikheid wat met ʼn nuwe lewe gepaard gaan.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Roeline erken dat dit voel asof hulle net weer hul ritme in hul werk- en gesinslewe gevind het toe sy swanger geraak het.

“Met ʼn eerste swangerskap is daar baie opgewondenheid, jy kyk na alles deur rooskleurige lense. Mettertyd besef ʼn mens hoe groot verantwoordelikheid dit is.

“Op die einde van die dag sit kinders alles anders in perspektief. Wat voorheen ʼn probleem sou wees, is glad nie meer nie. Hierdie nuwe uitkyk is eintlik baie verfrissend.”

Roeline is eersdaags in die Silwerskermfeesrolprent, As, te sien. Dié fliek, wat handel oor ʼn ma wat worstel om finaal afskeid van haar oorlede dogter te neem, is in drie dae verfilm.

Dit was ʼn uitdagende, maar lekker tyd, vir haar, onthou Roeline.

“Ons was besig met een van die besigste verfilmingsblokke van Fraksie. Ek het ʼn drie dae lange breuk geneem om die kortspeel-rolprent te gaan skiet.”

Kort verfilmingstydperke en beperkte begrotings is nie iets nuuts nie, vertel sy. Sy is oortuig daarvan dat die Afrikaanse vermaakbedryf sterk en gesond is, tog wonder sy hoe volhoubaar die onophoudelike vloei van nuwe projekte en produksies is.

Sy raak soms bekommerd oor begrotings wat nie saam met die inflasiekoers styg nie, erken Roeline. Produksies word dikwels drasties ingeperk daardeur, en sy glo dat dit rede is waarom talle plaaslike reekse en rolprente nie die tekstuur van internasionale produksies het nie.

“Met sommige produksies skiet ons net binnenshuis, en met ander is daar nie altyd tyd of geld vir ʼn span skrywers om te sit en ʼn teks te verfyn nie.

“Tog, kry ons dit reg om met klein begrotings magic te maak.”

Deur die jare heen het Roeline haarself in die vermaakbedryf tuisgemaak, en staan sy vandag haar skoene as drama- en komedie-aktrise vol.

Sy erken dat hoewel sy graag erkenning wou neem vir die uiteenlopende aard van haar loopbaan, sy dit nie kan doen nie. Haar pad as aktrise vloei deur elke geleentheid wat oor haar pad gekom het.

Roeline het al ʼn keer of wat rolle wat nie met haar waardes geresoneer het nie van die hand gewys, maar het ʼn kerngeloof daarin om nuwe uitdagings aan te gryp.

“Dit is net nog ʼn geleentheid om te wys wat in jou steek of selfs mense net te herinner dat jy nog hier is.”

Wanneer sy dink aan haar kinders se lewe en loopbaan, erken sy dat sy nie graag wil hê dat hulle ʼn pad met toneelspel moet stap nie.

“Maar, tog weet ek dat almal dit oor hul werk en kinders sê. My man, ʼn argitek, sê ook dat hy nie wil hê dat sy kinders eendag argitekte moet word nie,” skerts sy.

Roeline het in Johannesburg grootgeword voordat sy deur die loop van haar skoolloopbaan saam met haar gesin na Stellenbosch verhuis het. Daar het sy aan die Hoër Meisieskool Bloemhof matrikuleer voordat sy aan Universiteit Stellenbosch begin studeer het.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy het in haar skoolloopbaan nie net drama as vak geneem nie, maar het ook aan tientalle drama- en toneelkompetisies deelgeneem. Die belangstelling daarin het van die begin af natuurlik gevloei, sê sy.

Roeline erken maklik dat sy nie daarvan hou om risiko’s te neem nie, daarom, toe sy ʼn keuse oor haar studierigting moes uitoefen, het ʼn algemene BA-graad aanloklik geklink.

“Ek het ʼn week gehou voordat ek oorgestap het na die dramadepartement toe,” skerts sy.

Dit is juis agter die universiteitsbanke waar sy hegte vriendskappe met onder meer Cintaine Schutte, Ludwig Binge, Wessel Pretorius, Hannah Borthwick en Christiaan Olwagen gesmee het.

Saam met onder meer dié groep toneelvriende, het sy jare lank teaterwerk gedoen. ʼn Heerlike tyd, onthou sy, alhoewel hulle dikwels die sente moes omdraai en leë stoele in die teater gehad het.

“By elke produksie is daar mense wat jy vir die res van jou lewe gaan onthou en saamdra. Selfs al verloop daar jarelange tydperke waar julle mekaar nie sien nie.

“Die vriendskappe is eg en die liefde blywend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.