Romantiese ‘Liewe Lisa’ op Valentynsdag op die grootskerm

Liewe Lisa, ʼn splinternuwe rolprent met Hendrik Cronjé en Elani Dekker in die hoofrolle, begin eersdaags op die grootskerm landwyd draai.

Die fliek vertel die verhaal van Daniël (Hendrik Cronjé) wat deurmekaar en bekommerd oor sy toekoms is. Hy vang binnekort graad en gaan sy loopbaan eersdaags begin, maar het ʼn geheime droom om ʼn skrywer te word.

In sy strewe na opwinding word hy vasgevang in ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn invloedryke sakeman se vrou. Na die verhouding verby is, ontmoet Daniël vir Lisa (Elani Dekker), die dogter van dieselfde sakeman. Teen sy wil raak Daniël verlief op Lisa.

Elani Dekker en Hendrik Cronjé in 'Liewe Lisa'.

Elani Dekker en Hendrik Cronjé in ‘Liewe Lisa’.

Die foute van sy verlede haal hom in en Daniël roep die koers wat die lewe vir hom bepaal het vaarwel. Hy ontmoet vir Tom (Zane Meas), ʼn doodgewone visserman. Daniël verwyl sy dae deur vis te vang en met Tom te gesels oor die lewe en die liefde. Tom deel sy herinneringe van die verlies van sy lewensmaat en onthul ʼn ander kant van homself aan Daniël en help hom uiteindelik om sy ware potensiaal te bereik.

Cronjé het die draaiboek geskryf en die regie behartig.

Die draaiboek is geïnspireer deur die fliek The Graduate (1967). Cronjé het groot behoefte gehad om sy eie flieks te maak, en het kragte saamgesnoer met sy broer, Johan Cronjé.

Cronjé het ʼn huishoudelike Suid-Afrikaanse naam geword in die gewilde SABC 2-sepie 7de Laan, was later te sien in die kykNET-sepie Villa Rosa en het later agter die skerms ingeskuif en die regie van televisieprogramme op VIA begin behartig.

Dekker is ʼn talentvolle aktrise en danseres en in 2015 het sy haar eerste rol in die romantiese komedie Jou Romeo, met André Velts as regisseur, vertolk – in die rol van Yvette Verwey. Kort daarna het sy ook die rol van een van die hoofkarakters, Pizzaface, in die fliekweergawe van Vaselinetjie gespeel. Dié rolprent is geskoei op die gelyknamige roman deur Anoeschka von Meck.

Liewe Lisa begin op 14 Februarie landwyd in fliekteaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.