Sokkerster gaan in Asterix-prent speel

Swede en AC Milan se Zlatan Ibrahimovic. Foto: Jonathan Nackstrand/AFP.

Daar was al ’n paar lekker karakters in die Asterix & Obelix-stories. Dink net aan Getafix, Dogmatix, Unhygienix, en vele ander.

Nou gaan “Antivirus” sy verskyning in die jongste Asterix & Obelix-rolprent maak; ’n karakter wat deur die Sweedse sokkerster Zlatan Ibrahimovic vertolk sal word.

Die 39-jarige AC Milan-speler het die nuus op sosiale media bevestig.

Ibrahimovic het tans die meeste doele vir Milan vanjaar geskiet, maar sy kontrak verstryk teen die einde van die jaar.

Dit sal egter nie sy vermaaklikheidsbedryf-buiging wees nie – hy het vroeër vanjaar sy sangtalent by Italië se Sanremo-fees uitgestal waar hy ’n duet saam met Sinisa Mihajlovic gesing het.

Volgens oorsese berigte sal dit ook die eerste keer in vyf rolprente wees dat die gewilde Franse akteur Gérard Depardieu nie die rol van Obelix sal vertolk nie.

Gilles Lellouche sal vanjaar die streepbroek-kragman se skoene volstaan.

Die aanvanklike plan was om die rolprent in China te verfilm, maar dit sal nou in Frankryk en in Marokko plaasvind.

Dit sal in 2022 vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.