Veteraan-aktrises in prettige skip-fliek te sien

Verbeel jouself dat jy en ʼn groep vriendinne op ʼn plesiervaart, ver weg van die daaglikse bestaan, julself kan vernuwe en die verlede agterlaat. Klink hemels, reg?

In die nuwe Afrikaanse rolprent, #LoveMyselfie, is dit egter nie so eenvoudig nie. Só vind die plaaslike televisiester, Adele Swan, sommer vinnig uit wanneer sy ’n geleentheid aangryp om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig te word van eiendomsmagnaat, George, se veldtog: ’n kompetisie op die luukse plesiervaart, die MSC Sinfonia, om eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.

Nie net kry haar ego ’n knou wanneer sy agterkom dat sy aan die Survivor of Seniors-kompetisie aan boord van die skip sal moet deelneem nie, maar sy loop ’n ou skoolvriendin, Winnifred, raak wat die deure na haar langvergete verlede oopmaak.

Herinneringe veroorsaak by Adele selfvertwyfeling, spyt en die onderdrukking van sekere gevoelens soos die druk op haar groter word om die aftree-eenhede te verkoop en George toenemend onredelik raak.

Deur hulle beste “selfie” in te stuur, wen twaalf gelukkige seniors ’n naweek op ’n plesiervaart saam met die televisiepersoonlikheid, Adele, waar die vroue meeding in oorlewingstylspeletjies en -vasvrae om die eksklusiewe prys van ’n aftree-eenheid ter waarde van R7 miljoen, te wen.

Die hoofkarakter word vertolk deur IIIse Roos, bekend vir rolle in Egoli, Die Boekklub, Boland Moorde, Troukoors, Fynskrif. Sy was ook onlangs in die kykNET-sepie Suidooster te sien.

Illse Roos in die nuwe fliek, #LoveMyselfie. (Foto: Verskaf)

Adele se langverlore vriendin, Winnifred, word deur veteraan-aktrise June van Merch vertolk. Die res van die swaargewig-rolverdeling sluit in Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith, wat die slinkse George vertolk.

#LoveMySelfie handel oor veel meer as nét ’n langverwagte plesiervaartvakansie: Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ’n reis na binne en ontdek dat dit nooit te laat is om jouself te ontwikkel en selfs te verander nie.

Lika Berning, rolprentmaker en aktrise, met haar veelsydige loopbaanprofiel van meer as 20-jaar in die vermaakbedryf, is die regisseur van #LoveMySelfie. Dit is haar eerste vollengterolprent as regisseur.

“Ek wou ’n prettige komedie maak, maar ook een wat die hartsnare roer, en nie net vir die ouer Afrikaanse gehoor nie, maar vir almal om te geniet. #LoveMySelfie wys ’n emosioneel-bevredigende reis waarin Adele die lae waaragter sy wegkruip, afskil – nes baie van ons almal soms doen,” sê Berning.

Hélène Truter het die draaiboek geskryf en Nigel Tattersal, Vlokkie Gordon, Kurt Darren en Berning het dit vervaardig.

Die rolprent is op twee MSC-vaarte geskiet: ’n tweenagvaart na Mosselbaai en ’n viernagvaart na Walvisbaai, Namibië.

“Ons grootste doel was om ons voortdurende ondersteuning aan die Afrikaanse gemeenskap te toon deur die skeppende kunste te help – ’n belangrike deel van die vermaaklikheidsektor in Suid-Afrika.

“Ons hoop dat Suid-Afrikaanse gehore hierdie inspirerende storie sal geniet en ons sien uit na die sukses daarvan op die grootskerm,” sê Ross Volk, besturende direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, oor hul betrokkenheid by die rolprent.

Kurt Darren, bekende Afrikaanse popsanger en mede-vervaardiger van #LoveMySelfie, is ook te sien in die fliek.

Een van die karakters is ’n groot bewonderaar van hom en sy ikoniese liedjie, “Kaptein span die seile”, en is ook deel van die klankbaan, wat nog vele ander bekende Afrikaanse liedjies bevat.

Geniet die #LoveMyselfie-première saam met ons

Ons sien geweldig uit na die hierdie spesiale geleentheid op 1 Desember en sal dit graag saam met ons lesers wil vier.

Kaartjies is hier te koop teen R175 elk.

‌Hierdie eksklusiewe vertoning op die Blaauwklippen-wynlandgoed in Stellenbosch beloof om een van die hoogtepunte van die jaar te wees. Kom skuur skouers met van die akteurs en kyk die fliek onder die sterre op die grasperk.

  • Die kaartjieprys sluit ’n komplimentêre glas wyn in.
  • Bring gerus jou eie piekniekkombers saam.
  • Daar sal kosstalletjies en ʼn kontantkroeg beskikbaar wees.
  • Die vertoning sal begin sodra die son sak.

Daar gaan ook ʼn tweede vertoning op die Simonsvlei-wynlandgoed in die Paarl gehou word op 7 Desember. Van die akteurs, insluitend die sanger Kurt Darren, sal ook die geleentheid bywoon.

Verskeie vertonings van die fliek word nog beplan en nuwe vertonings sal gereeld op die webblad gelaai word.

Om die rolprent by jou behuisingslandgoed, gemeenskapsaal of enige ander gepaste venue te vertoon, kontak gerus die fliek se bemarkingspan op die webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.