Video: Ellen Pakkies se lokprent bekendgestel

Jill Levenberg (regs) en Ellen Pakkies. (Foto: Verskaf)

Jill Levenberg (regs) en Ellen Pakkies. (Foto: Verskaf)

Nadat sy in 2007 aangekla is vir die moord op haar dwelmverslaafde seun, Abie, het Ellen Pakkies se opspraakwekkende verhaal die aandag van mense reg oor die wêreld getrek.

Die hofsaak wat daarna gevolg het, het belangstellendes op die punte van hulle stoele gehou en die rolprentvertelling daarvan beloof om dieselfde met kykers te doen en meer!

Dié misdaaddrama het reeds oorsee opslae gemaak nadat dit in Januarie vanjaar amptelik gekies is om by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees in Nederland vertoon te word en is ook in Mei vanjaar gekies om deel te wees van die 44ste jaarlikse Seattle Internasionale Rolprentfees in die VSA.

Die rolprent, wat in die innerlike psige delf van ’n familie wat deur dwelms vernietig word in een van die gevaarlikste plaaslike gemeenskappe, is baie goed ontvang by die fees.

“Wanneer jy die rolprent kyk, besef jy dat Ellen nie ʼn bose of kwaadwillige mens is nie. Jy begin verstaan hoekom sy gedoen het wat sy het,” skryf die  webwerf Film and Television Business, wat die rolprent met vyf sterre bekroon het.

“Sy is ʼn ma, wat lief was vir haar seun, maar hom ongelukkig nie kon help nie. Al die akteurs vertolk hulle rolle puik en jy sal ʼn hele stroom van emosies op een slag ervaar. ʼn Fenominale stuk kuns, wat jou lewe sal verander.”

The Stranger se Sean Nelson meen dat die fliek insae gee oor die ekonomiese omstandighede wat veroorsaak het dat Pakkies se seun verslaaf geraak het aan tik asook die ongelykhede wat in die strafregproses bestaan. “Dit is nie ʼn maklike fliek om te kyk of na die tyd te vergeet nie.”

'n Skermgreep uit die lokprent.

‘n Skermgreep uit die lokprent.

Daryne Joshua, bekroonde regisseur wat bekend is vir sy suksesvolle debuutfilm, Noem my Skollie, was saam met vervaardigers Schalk-Willem Burger en Paulo Areal aan die stuur van hierdie indrukwekkende produksie.

Die draaiboek is deur Amy Jephta geskep met die hulp van die regte Ellen Pakkies se insette. Laasgenoemde het ook baie gehelp om die tonele in die fliek, wat in haar huis geskiet is, so outentiek as moontlik te herskep.

“Ons hoop dat ʼn invloedryke persoon die fliek sal sien en ʼn betekenisvolle verskil in sulke gemeenskappe sal maak. Verfilming het in Lavender Hill in Ellen se huis, waar die moord gepleeg is, plaasgevind en ons het uit ons pad uit gegaan om vir die kyker die regte wêreld waarin hierdie vrou gewoon het en steeds woon te wys,” sê Burger.

Buiten vir die indrukwekkende span agter die rolprent, spog dit ook met ʼn sterbelaaide rolverdeling en lof stroom in vir dié groep akteurs wat hulle so skitterend van hulle taak kwyt.

Jill Levenberg, wat al verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos Genadekans, Noem my Skollie, Leemte, While You Weren’t Looking, Abraham, Bekkies gevind, As ek huistoe kom, Fluit-Fluit, Atlas, Uitvlucht en die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, is briljant in die hoofrol van Ellen Pakkies en het baie navorsing en moeite gedoen om haar vertolking so eg en eerlik as moontlik te benader.

Elton Landrew, wat ʼn bekende gesig op die verhoog (District Six en Kat and the Kings) en televisie (Huis van liefde, Sara se geheim, Dryfsand en Suidooster) is, asook Kay Smith, wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Tarryn in 7de Laan, is ook in die fliek te sien.

Ander bekroonde akteurs wat ook te sien is in dié treffende film, is Clint Brink (Binnelanders), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo) en Russel Savadier (The Wild, Isidingo, Black Sails).

Ellen, Die Ellen Pakkies Storie word op 7 September in fliekteaters landswyd uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Saartjie ·

Die hartseer lewe wat so baie ouers op die Kaapse Vlakte (en elders) elke dag ervaar. Ek hoop ‘Die Ellen Pakkies Storie’ word wêreldwyd versprei en is ‘n groot sukses sodat Ellen se stryd dalk iewers geweld, misdaad en sterftes kan verhoed. O ja, en maak tog asseblief ook seker dat oud-president Thabo Mbeki dit te siene kry …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.