Video: ‘Frankie en Felipé’ binnekort op die grootskerm

Frankie en Felipé is ʼn splinternuwe Afrikaanse komedie wat die naweek in fliekteaters landwyd te sien sal wees.

Die ontslape akteur Bradley Olivier het die fliek saam met Solomon Cupido en Brett Michael Innes geskryf. Bradley en Solomon verskyn ook in die hoofrolle.

Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooy, Brendon Daniels en Terence Bridgett is ook in die rolverdeling te sien.

Frankie en Felipé handel oor Franklin Blaze (Olivier), ʼn hardwerkende, suksesvolle man uit ʼn arm agtergrond wat hy vir sy verloofde, Kim Fortuin (Syster), en kollegas wegsteek.

Wanneer sy halfbroer, Felipé Baadjies (Solomon Cupido), by sy huis aankom, is sy naderende troue en werkreputasie in gedrang.

Die desperate Felipé dreig om sy broer se geheim te ontbloot as hy hom nie help met geld wat hy aan ʼn wrede geldskieter moet terugbetaal nie. Frankie probeer Felipé paai deur hom by die bruilof in te sluit, ʼn besluit wat hy gou berou. Felipé is nie die soort jafel wat die welgestelde, gesofistikeerde Fortuin-familie naby hulle dogter wil hê nie.

Frankie en Felipé begin Vrydag 23 Februarie in fliekteaters landswyd draai.

Bradley se vriende, familie en kollegas het in Augustus verlede jaar tydens die première van die fliek by die 11de kykNET Silwerskermfees byeengekom om sy laaste rolprent, en sy lewe, te vier.

Bradley, wat veral bekend was om sy rol as Danny Jantjies in die kykNET-sepie Binnelanders, is op 20 Julie verlede jaar in die Life Flora-hospitaal in Roodepoort weens ʼn breinaneurisme dood.

Maroela Media was daar toe hulde aan Bradley gebring is tydens verlede jaar se Silwerskermfees. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.