Video: ‘Pamina’-fliek maak buiging op Silwerskermfees

Die rolverdeling van ‘Die tragiese saak van Pamina Vermaak’. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Annie Klopper se gewilde roman Die tragiese saak van Pamina Vermaak het gestalte op die silwerdoek gekry en het Vrydag op die 11de kykNET Silwerskermfees sy buiging gemaak.

Kabous Meiring was in die regisseurstoel van dié romantiese komedie wat handel oor ʼn musiekjoernalis wat weer die stukkies van haar lewe optel in haar geboortedorp aan die Weskus nadat haar liefdeslewe en loopbaan verwoes is.

Carla Smith vertolk die rol van Pamina Vermaak, ʼn werklose joernalis ná ʼn skouspelagtige uitbarsting teenoor haar redakteur. Die rocker, Wolf de Jager, gespeel deur Christiaan Schoombie, word deur sy bestuurder na ʼn stil dorpie aan die Weskus gestuur nadat hy sy humeur lelik by ʼn vertoning verloor het.

Sy eks-verloofde, Daniella (Ilse-Lee van Niekerk), het hom verneuk met ʼn bekende Amerikaner en sy kreatiwiteit het opgedroog.

Annie Klopper. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hy vlug na dieselfde dorpie waar Pamina haar bevind. Daar word sy gedwing om vrede met haarself en die verlede te maak, terwyl Wolf besef sy ontwykende muse is dalk dié hardkoppige, aanvallige donkerkop.

Volgens Carla sal gehore aanklank vind by Pamina omdat sy nie bang is om te sê wat sy dink nie.

“Partykeer sê sy te veel en daarom moet sy die los drade gaan optel by haar familie. Deur hierdie gesprekke besef sy wie sy eintlik is.”

Volgens die skrywer van die boek het sy juis die roman geskryf met die doel dat dit eendag ʼn rolprent sal word. Elanie Rupping en Bibi Slippers het die draaiboek ontwikkel en geskryf.

“Toe ek die idee vir die storie gekry het, het ek geen kennis gehad van draaiboekskryf nie, maar ek het kennis gehad oor boeke. Ek het dit geskryf soos ʼn fliek wat afspeel in my geestesoog.”

Kabous Meiring. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Sy sê dit is ʼn ongelooflike voorreg dat akteurs soos Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Duane Williams, Albert Pretorius, Armand Aucamp en Heléne Truter gestalte aan die karakters gegee het.

“Om te sien hoe hulle lewe gee aan my karakters, is baie spesiaal. Ek voel geëerd, dankbaar en nederig.”

Die tragiese saak van Pamina Vermaak is in verskeie speelfliek-kategorieë benoem vir vanjaar se Silwerskermfees-toekennings, onder meer vir beste regie (Kabous Meiring), beste ondersteunende akteur (Duane Williams), beste ondersteunende aktrise (Lee-Ann van Rooi) en beste aktrise (Carla Smith).

Die Silwerskermtoekennings word vanaand in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) in Kaapstad oorhandig.

Die geleentheid word môre (Sondag 27 Augustus) om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.