Video: Treffende lokprent van ‘Fiela se kind’ bekendgestel

Dalene Matthee se topverkoperboek, Fiela se kind, was ʼn verhaal wat elkeen wat dit gelees het, aangegryp het – en te oordeel aan die lokprent van die splinternuwe rolprentweergawe, gaan dié fliek dieselfde doen.

Die lokprent van die film is Donderdag bekendgestel en gee ʼn voorsmakie van die silwerskermvertolking van Fiela se treffende en hartverskeurende verhaal.

Die storie speel in 1865 in suidelike Afrika af waar Fiela, ʼn hardwerkende bruin vrou, ’n driejarige wit seuntjie op haar voorstoep ontdek. Haar besluit om hom in te neem hou egter langdurige gevolge vir haar en die kind in. Ná ’n dekade in Fiela se sorg, word Benjamin deur regeringsowerhede raakgesien. Hy word van haar weggeneem en terugbesorg aan die wit familie van houtkappers waarvandaan hulle glo hy kom.

Verwyder deur die gereg en afstand, probeer Fiela en Benjamin die volgende dekade om mekaar op te spoor terwyl hulle terselfdertyd vrede maak met hulle individuele identiteite. Fiela het ’n seun verloor en verval geleidelik in depressie, ’n gemoedstoestand wat verder vererger word deur die mishandeling wat sy ondervind aan die hand van die gereg, en Benjamin se nuwe pa terwyl sy hom probeer opspoor. Benjamin, aan die ander kant, word gewerp in ’n verarmde omgewing waarin hy mishandel word, een waarin hy geforseer word om ’n nuwe identiteit aan te neem terwyl hy sy eie onderdruk.

Fiela se Kind is in 1988 deur Katinka Heyns verwerk tot ʼn rolprent met Shaleen Surtie-Richards as Fiela – ʼn vertolking wat so ikonies is as die karakter deur wie dit geïnspireer is. In die jongste weergawe van die fliek speel Zenobia Kloppers die rol van Fiela, met Luca Bornman en Wayne Smith onderskeidelik in die rol van die jonger en die ouer Benjamin Komoetie.

Zenobia Kloppers as Fiela. (Foto: Verskaf)

Drikus Volschenk en Cindy Swanepoel vertolk die rolle van Elias en Barta van Rooyen. Melissa Willering, André Stoltz, Wayne van Rooyen en Stefan Erasmus maak ook deel uit van die rolverdeling.

Die jongste weergawe van die fliek is ook in die Knysna-bos en die Karoo geskiet.

Die film is deur Danie Bester (Vir altyd, Vaselinetjie en Stroomop) in samewerking met kykNET Films, Filmfinity (Pty) Ltd en die departement van handel en nywerheid vervaardig, terwyl Brett Michael Innes, skrywer en regisseur van die Safta-bekroonde fliek, Sink, die regie behartig het.

Die temalied van die film word deur Margot Rothman gesing, terwyl Loki Rothman en Kyle Shepherd die lied vervaardig het.

Fiela se kind is van 13 September in fliekteaters in Suid-Afrika te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mad ·

Huil sommer weer as ek net d lokprent kyk van hierdie verhaal wat al soos volks eiendom voel. Ekt self n aangenome kind…
Laat mens weer dink: wie en wat maak jou n ma van n kind? Nie NET biologiese faktore nie. …maar wel die een wat liefde gee en verantwoordelikheid neem oor daardie kind.

Fanus ·

Nee wat, hou verby, dit lyk en klink of span té hard probeer het om ‘n geliefde film en storie te vernuwe. Niks kan of sal ooit die oorspronklike vervang nie.

Wielspore ·

Great, mooi voorprent, lekker moderne musiek, nuwe karakters (met respek), sal die fliek gaan kyk…. Fiela!

Khan ·

Hou asseblief op daarmee om soos Hollywood die ou films oor en oor en oor uit te gee..selfs sequels is boring…viva internet….hou verby kine.

Zettie ·

Ek hoop die “Fiela Koemotie” speel beter toneel hiér as wat sy in Suid-Ooster gespeel het…….maar hoekom nou iets verander wat gewerk het? Hoekom nog ‘n Fiela se Kind?

LH ·

Sonder Sharlene Surtee Richards, kan daar NOOIT ‘n Fiela wees nie!

Patch ·

Fiela se kind en Kringe in ‘n bos was, is en sal altyd my gunsteling Afrikaanse boeke bly. Kringe was 27 jaar gelede my matriek voorgeskrewe boek. Was mal oor die oorspronklike Fiela se kind film en het ook DVD daarvan, het seker al 10 maal gekyk en elke keer gehuil. Sien uit om die nuwe weergawe te sien. Wens hulle kan ‘n Kringe fliek maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.