Bederf jouself met ʼn besoek aan dié beeldetuin

Dylan Lewis-beeldetuin (Foto: Maroela Media)

Geleë tussen twee wêrelde – een wild en die ander getem – lê die Dylan Lewis-beeldtuin. Die tuin grens aan die versorgde tuine van Stellenbosch en ʼn ruwe berg waar luiperds nog vry rondloop.

Lewis, veral bekend vir sy beeldhouwerke van groot katte (wat onder andere ook by die wynlandgoed Leopard’s Leap te sien is), onderskryf die Jungiaanse konsep van “die wildernis van binne”.

Die beeldetuin is ʼn fees vir die oog – oral waar jy kyk, is daar iets nuut, onverwags en anders te sien.

Lewis se beeldtuin was deel van die rondes ateljeebesoeke wat Woordfees vanjaar vir feesgangers aangebied het. Jy kan die tuin enige tyd van die jaar ook self verken, maar ek beveel graag aan dat jy ʼn afspraak maak met ʼn gids wat jou deur die tuin kan lei. Die roete is ongeveer 2 km lank en sal jou sowat 45 minute lank neem om af te lê, afhangend van hoe lank jy jou wil versom aan die kunswerke. Die gids verduidelik tydens die toer ook die ingewikkelde proses wat die kunstenaar volg.

Lewis het veral bekendheid verwerf vir die luiperdbeelde wat hy in opdrag van die Rupert-familie gemaak het. Dié beelde het vir hom ʼn plek verseker op die internasionale verhoog waarna Christie’s-afslaers van hom te hore gekom het.

Die projek het in 2009 begin toe Lewis met opgrawings begin het, wat uiteindelik ʼn beeldetuin van sewe hektaar groot sou word. Tydens die byna twee jaar van grondverskuiwingswerk, het Lewis ʼn ongebruikte stuk plaasgrond omskep in dinamiese euwels, valleie en waterfonteine.

Lewis, ʼn gebore Suid-Afrikaner, se werk is al uitgestal in Parys, Sydney, Toronto, Houston en San Francisco. Hy is een van die min kunstenaars, wat nog leef, wat met ʼn solo-uitstalling by Christie’s in Londen kon spog.

Besoeke en toere in die beeldetuin is slegs per afspraak. Besoek dylanlewis.com of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Jy kan die kunstenaar ook op Facebook of Instagram volg.

 

Dylan Lewis Studio

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.