Pret en vermaak by die Oppi-Plaasfees buite Dullstroom

Oppi-Plaas is ʼn Afrikaanse fees wat op 17 Junie 2023 net buite Dullstroom plaasvind. Die fees beloof ʼn dag vol vermaak vir die hele gesin.

Daar gaan ʼn verskeidenheid van musiekkunstenaars wees insluitend Steve Hofmeyr, Liezel Pieters, Moonshine Country Blues Band, Tiffany Steyn en Dienkie en Doedels om die kinders te vermaak. Dis egter nie net musiek nie: Daar is ook 3D Barrel Racing, driekamp en ʼn potjiekoskompetisie!

Steve Hofmeyr sal beslis sorg vir een van die hoogtepunte van hierdie fees en sy vele aanhangers kom van heinde en ver om hierdie bekende, geliefde Afrikaanse musiekster te sien optree.

Liezel Pieters is ʼn bekende sangeres, in eie reg bekend vir haar unieke stem en treffende lirieke. Haar aanhangers sal bly wees om te verneem dat sy onlangs ʼn nuwe album vrygestel het en dat hulle haar by die fees te siene sal kry.

Die aanhangers van die Moonshine Country Blues Band gaan ook by die fees aangenaam verras word met hierdie groep se kenmerkende styl van Amerikaanse Country and Western-musiek.

Tiffany Steyn is ‘n nuwe kunstenaar wat beslis dopgehou moet word. Sy gaan die feesgangers betower met ‘n verskeidenheid musiekstyle, haar veelsydige stem en sprankelende persoonlikheid. Sy gaan ook haar enkelsnitte met die gehoor deel.

Dienkie en Doedels is kunstenaars wat spesialiseer in kindermusiek en -vermaak. Hulle sing en dans saam met die kinders en voeg ʼn element van pret en opwinding tot die fees.

Avontuur en opwinding speel ʼn groot rol by so ʼn aktiewe feesdag en die 3D Barrel Racing spreek hiervan! Perd en ruiter moet so vinnig moontlik tussen balies deurvleg en rakelings verby ʼn paar pilone jaag. Vaardigheid en kundigheid gaan ʼn vereiste wees. Aanhangers van hierdie item gaan hulle asems ophou.

Die driekamp bied vir atlete die geleentheid om hul vaardigheid en vermoë ten toon te stel. Die items behels hardloop, fietsry en perdry en daarom word stamina hoog aangeskryf. Beide deelnemers en toeskouers sal hierdie feeshoogtepunt lank onthou.

Die potjiekoskompetisie het geen bekendstelling nodig nie, aangesien ons Suid-Afrikaners hierdie kookmetode al van toeka se tyd af beoefen. Deelnemers ding mee om die titel van Beste Pot te verower. Hulle gebruik verskeie bestanddele vir hul eie pot wat met fyn beplanning, vaardigheid en ondervinding aanmekaar geslaan word. Hulle gaan uithaal en wys.

Die opbrengste van die Oppi-Plaasfees 2023 sal aangewend word om die Dullstroom-Boerevereniging, wat al onder plaasmoorde en veediefstal deurgeloop het, te onderskraag.

Wat ʼn wonderlike geleentheid om hierdie verdienstelike aksie te ondersteun en terselfdertyd ʼn dag van vermaak en vrolikheid te geniet!

Dullstroom se Boerevereniging verteenwoordig boere in die Dullstroom-omgewing en is ʼn nie-winsgewende organisasie. Hulle beywer hulle om volhoubare plaasbedrywighede te bevorder, boereregte te beskerm en om die plaaslike gemeenskap te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.