Vier Aarde-uur met ʼn nagtelike avontuur

Jaarliks neem miljoene mense reg oor die wêreld op die laaste Saterdag van Maart (vanjaar 28 Maart) deel aan “Aarde-uur”, die grootste wêreldwye omgewingsbeweging.

Die heel eerste Aarde-uur is in 2007 in Sydney, Australië gehou as ʼn simboliese inisiatief waar almal hul ligte afskakel.

Dié beweging strek deesdae veel verder as net die simboliese aksie om ligte af te skakel en dit het sinoniem met klimaatbewusmaking, -opvoeding en -bewaring geword. Hierdie kollektiewe aksie help ook om positiewe wetgewing en die opstel van beleide te dryf.

Mense wat naby en in Johannesburg en Kaapstad bly kan deelneem aan die beweging deur ʼn buitelug-avontuur, in samewerking met Virgin Active, wat by Kirstenbosch en Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuine plaasvind.

Dié geleenthede vind in die donker plaas met kopligte en flitse en deelnemers sal verskeie merkers moet vind oor ʼn 5 km-roete. Nadat mense die roete voltooi het, kan jy en jou familie op ʼn piekniekkombers uitspan en ʼn musiekvertoning geniet.

Justin Smith, die hoof van besigheidsontwikkeling by die Wêreldnatuurfonds (WWF), sê vanjaar se Aarde-uur kom in ʼn tyd waar die kwessie van klimaatsverandering verdiep.

“Daar was nog nooit ʼn belangriker tyd om saam te staan en om die kollig te skyn op hierdie kwessies nie. Ons kan almal klein veranderings maak in ons lewens en ons kan ons leiers aanmoedig om groot veranderings te maak, soos om herwinbare energie te ondersteun, wat beter is vir mense en die planeet,” sê hy.

Volgens Smith is die Aarde-uur-avontuur ʼn goeie manier vir gemeenskappe om byeen te kom om die omgewing te help. “Dit is pret, familievriendelik en ʼn geleentheid in ʼn pragtige natuurlike gebied.”

Beide geleenthede, in Kaapstad en in Johannesburg, dien as geldinsamelingsprojek vir WWF SA en opbrengste gaan aan natuurbewaring.

Hier is meer inligting oor die Aarde-uur in Kaapstad en Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

quartus ·

Ons het elke dag 2 of 4 aarde ure met die beurtkrag..ons bring ons kant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.