Afrikaans hou dié tjellis na aan haar familie

Die tjellis Luka Coetzee, het al menigmaal opgetree as internasionale solis, kamermusikant en as deel van ʼn orkes. (Foto: Verskaf)

Luka Coetzee, ʼn 18-jarige musikant van Kanada, word tans as een van die beste tjelliste in die wêreld in haar ouderdomsgroep beskou én sy praat boonop nog vlot Afrikaans.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat haar ouers in 2000 van Suid-Afrika af Kanada toe geëmigreer het. Hoewel Luka in die buiteland gebore is, is Afrikaans hulle huistaal. Trouens, sy het Afrikaans voor Engels geleer praat.

“Ek het nog baie kontak met familie, spesifiek neefs en niggies, wat in Suid-Afrika bly. As dit nie was dat ek Afrikaans kon praat nie, sou ek nie so na aan hulle gewees het nie. Dit is ook heerlik om in Afrikaans met mense wat my konserte bywoon, te gesels.”

Mense in die buiteland reageer nogal op verskillende maniere wanneer hulle hoor dat Luka Afrikaans praat.

“Hulle vra gewoonlik vir my watter taal dit is. Dit gebeur ook nogal baie dat ons dink niemand verstaan nie en dan hoor ons skielik iemand wat agter ons in Afrikaans vra hoe lank ons al in Kanada bly. Dit is meestal Suid-Afrikaners wat ook geëmigreer het.

“Noudat ek in Duitsland woon, is dit opmerklik hoe gereeld mense hier ook uitvra wanneer hulle my op die telefoon hoor praat, maar hulle dink gewoonlik dat dit Nederlands is.”

Luka het ʼn jaar gelede Duitsland toe getrek waar sy tans musiek, met spesialisering in tjello, aan die Universiteit van Musiek Franz Liszt Weimar (Hochschule für Musik Franz Liszt Weimar) studeer.

Musiek vorm ʼn groot deel van hulle gesin se lewe. Haar ma is ʼn pianis en sy kan ook tjello speel. Luka se twee susters is ook musikante en hulle gee tans musiekles in Kanada.

Luka Coetzee, ʼn 18-jarige musikant van Kanada, word tans as een van die beste tjelliste in die wêreld in haar ouderdomsgroep beskou. (Foto: Verskaf)

“Ek het so sewentien jaar terug al begin tjello speel, en ek het op drie met klavier begin. Ek geniet dit baie en hoop dat ek ʼn lewe uit musiek sal kan maak.”

Sy het al menigmaal opgetree as internasionale solis, kamermusikant en as deel van ʼn orkes. Op die oomblik kry haar studie voorkeur en sy probeer om gereeld aan musiekkompetisies deel te neem.

“My fokus is op kamermusiek en solo-uitvoerings. Ek juis op die oomblik besig om voor te berei vir ʼn kompetisie wat in Oktober in Helsinki, Finland, plaasvind.”

Dit is die Paulo International Cello Competition wat van 1 tot 12 Oktober regstreeks uitgesaai word. Om in aanmerking te kom vir oorweging, moes musikante ʼn video-opname stuur. Uit die inskrywings is 26 tjelliste tussen 16 en 30 jaar gekies om deel te neem.

“Dit is nogal stresvol om aan kompetisies deel te neem, maar ek geniet dit. ʼn Mens leer regtig ongelooflik baie in die proses. Baie meer as wanneer ek vir ʼn konsert voorberei,” gesels sy verder.

Luka word absoluut deur haar passie vir musiek gemotiveer. Sy is toegewyd en oefen etlike ure per dag om seker te maak dat sy tot die beste van haar vermoë voorberei.

“Die laaste maand, veral, werk ek amper die hele dag op een of ander manier met tjello. Hetsy dit deel van ʼn lesing, musiekles, geskiedenis of oefening in my vrye tyd is. My studie is nogal intens en daar is ʼn hoë verwagting van studente by die musiekskool.”

Op die vraag oor watter gedagtes by haar opkom wanneer sy nadink oor al die pryse wat sy gewen het en geleenthede wat oor haar pad gekom het, sê Luka dat dit beslis help om perspektief te gee.

“Ek kom baie keer nie agter hoe ver ek al met my musiek gekom het nie. Maar, dit is eintlik belangrik om elke nou en dan terug te staan en te besef dat ek ʼn paar redes het om selfvertroue te hê.

“Dit is moontlik om hard te wees op jouself, want as jy die hele dag in die oefenlokaal sit en hoor wat jy verkeerd doen en moet verbeter, dan vergeet ʼn mens van dit wat jy wel al reggekry het en dat jy op die regte pad is.”

Aan die einde van ʼn lang dag se oefen en in druk tye, word Luka gemotiveer deur die gedagte dat dit goed is om ook te rus. Verder, meen Luka, is dit ook belangrik om deurentyd te onthou waarom sy tjello speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.