Aitsas 2022: Jou laaste kans om te stem

Elandré, Refentse, Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Rocco de Villiers, Tarryn Lamb, Droomsindroom en Simoné Roets die vermaak by die geleentheid verskaf.

Dit is binnekort tyd vir Pretoria FM se Aitsa-musiektoekennings om kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf te vereer vir hul bydrae tot die Afrikaanse musiekskatkis.

Die Aitsa-toekennings is geskep om ʼn onafhanklike geleentheid te wees waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

Afrikaanse kunstenaars en vervaardigers word vereer in verskeie kategorieë, soos liedjie van die jaar, popliedjie van die jaar, instrumentale liedjie van die jaar, geestelike liedjie van die jaar en musiekvideo van die jaar.

Lede van die publiek het nog tot Woensdag 16 November geleentheid om by www.pretoriafm.co.za vir hul gunstelingkunstenaars te stem in die onderskeie kategorieë.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op Donderdag 29 November by die Choose Life-kerk in Pretoria bekend gemaak word.

Elandré, wat verlede jaar vier Aitsas ingeoes het, sal vanjaar saam met kunstenaars soos Refentse, Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Rocco de Villiers, Tarryn Lamb, Droomsindroom en Simoné Roets die vermaak by die geleentheid verskaf.

Kaartjies kos R250 per persoon en is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.