Aitsas: Rekordgetalle wys Afrikaanse publiek se steun

Die Aitsa-toekennings word weer vanjaar uitgedeel. (Foto: Verskaf)

Te danke aan die rekordgetal inskrywings en stemme wat vanjaar deur die Aitsa-musiektoekennings gewerf is, slaag dié geleentheid ongetwyfeld in die doel waarvoor dit aanvanklik deur Pretoria FM geskep is.

Só sê Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, wat in 2019 die Aitsa-toekennings van stapel gestuur het as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

“Ons kan sien hoe die lede van die publiek se deelname aan die toekennings jaarliks groter word,” sê Spies.

Teen 30 Junie vanjaar is 389 inskrywings vir die toekennings ontvang, teenoor 288 inskrywings wat in 2019 ontvang is, wat beteken die getal inskrywings het vanjaar met 35% toegeneem. Slegs snitte wat vanaf 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 uitgereik is, kon vanjaar in aanmerking vir die toekenningsgeleentheid kom.

Wat dié toekennings ook uniek maak, is dat mense vir hulle gunstelingkunstenaars in die onderskeie kategorieë kan stem. ʼn Rekordgetal van altesaam 24 287 stemme is deur lede van die publiek uitgebring vir vanjaar se musiektoekennings. Die stemmery het op Dinsdagaand 16 November gesluit.

“Dit is ʼn baie goeie aanduiding van die Afrikaanse publiek se ondersteuning van die toekennings,” voeg Spies by.

Willie Spies, uitvoerende hoof van PretoriaFM, oorhandig verlede jaar die toekenning vir lewensbydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf aan Gert van Tonder. (Foto: Bronwyn Kruger)

Volgens Spies is die toekenning vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf ʼn gesogte beeldjie wat vanjaar weer deur ʼn ikoniese musikant ontvang word. Vorige wenners van dié prys is Sonja Herholdt en Gert van Tonder.

Nuwelingkunstenaars Droomsindroom en Simoné Roets sal vanjaar saam met Elandré, wat verlede jaar vier Aitsas ingeoes het, Refentse, Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Rocco de Villiers en Tarryn Lamb, die vermaak by die geleentheid verskaf.

“Die gedagte van die aand is om Afrikaanse musiek te vier en soveel moontlik mense daarmee te vermaak. Ons is oortuig dat die derde Aitsa-toekenningsgeleentheid ons suksesvolste een tot dusver gaan wees, as ons net kyk na die opwinding van die kunstenaars se kant af.”

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op Donderdag 29 November by die Choose Life-kerk in Pretoria bekend gemaak word.

Kaartjies kos R250 per persoon. Daar is ook ʼn spesiale aanbod van R200 per persoon vir groepbesprekings van 10 persone of meer. Dié aanbod is steeds geldig.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.