Akustika-kamerkoor hou SA se naam hoog op internasionale verhoog

Akustika Chamber Singers is as algehele wenners van hierdie jaar se Vox Lucensis Concorso Corale Internazionale bekroon. (Foto: Verskaf)

Christo Burger, die dirigent van Akustika Chamber Singers, het pas van Italië teruggekeer waar hulle as algehele wenners van hierdie jaar se Vox Lucensis Concorso Corale Internazionale bekroon is. Dié koor het ook die kategorieë vir gemengde kore en gewyde sang in dié internasionale koorkompetisie gewen.

“In daardie paar oomblikke voor die aankondiging, waar jy saam met kore van reg oor die wêreld wag om te hoor wie wen, is daar altyd ʼn glinstering van hoop. Maar in die oomblik self, wanneer jou koor as die wenners aangewys word, het jy geen idee wat om te voel nie.”

“Die emosie is so oorweldigend. Ná maande se ontsettende harde werk en voorbereiding, is dit nie ʼn gegewe dat jy sal wen nie. Ons het teen van die wêreld se beste kore meegeding, en boonop is dit geweldig moeilik om te peil waarvoor die beoordelaars luister en waarna hulle in ʼn wenkoor soek.”

Christo sê verder die gelukwense en ondersteuning wat hulle van deelnemende kore en Suid-Afrikaners ontvang het, is ʼn riem onder die hart.

“Die gevoel wat ek gekry het, was dat die koorgemeenskap wat daar byeengekom het mekaar se musiek en prestasies wou vier. Die koorwêreld is klein, en veral in Suid-Afrika kry klassieke musiek min aandag.

“Iets soos ʼn koor wat mooi musiek skep, drome najaag en op ʼn wêreldverhoog met die louere wegstap, gee vir mense hoop. Dit bring goeie nuus waarin mense kan deel.”

Dit is nie die eerste keer dat Akustika internasionaal uitblink nie. Vandat die koor in 2005 begin is, het hulle verskeie koorkompetisies, onder meer in Duitsland, Oostenryk, Wallis en Italië, gewen. Akustika Chamber Singers beklee ook sedert 2010 die tweede plek op Interkultur se wêreldranglys vir gemengde kore.

Akustika Chamber Singers is as algehele wenners van hierdie jaar se Vox Lucensis Concorso Corale Internazionale bekroon. (Foto: Verskaf)

Buiten die koor se hoogstaande bydrae tot die Suid-Afrikaanse koorwêreld, het Akustika ook heelwat samewerkingsprojekte in sekulêre genres. Dit sluit die koor se samewerking met Mass for the Good Princes (2023), Nataniël: Die Smitstraat Suite (2022), Afrikaans in styl (2022) en die kykNET-reeks Terwyl ek wag se temalied.

Hoewel Christo ʼn deurwinterde dirigent en beoordelaar is, is die voorbereiding en programsamestelling vir koorkompetisies steeds vir hom ʼn moeilike taak.

“Omdat ek self kore beoordeel, weet ek min of meer waarop om te fokus. Tog is daar voortdurend verandering in koormusiek se tendens. Daar is deesdae byvoorbeeld ʼn groter fokus op die koor se vokale vermoë. ʼn Mens kan egter nooit te gerus wees nie, want daar is altyd ʼn element wat jy nie verwag nie.”

Christo hoop dat die grootsheid van ʼn internasionale koorkompetisie nie plaaslike dirigente daarvan sal weerhou hulle talent ten toon te stel nie.

“Suid-Afrikaanse koormusiek word wêreldwyd hoog aangeskryf. Dit is so belangrik dat ons plaaslike dirigente hulle drome najaag, met repertoriums waag en aanhou om kore te ontwikkel.”

Voor die koorseisoen in Augustus eindig, lê daar nog heelwat konserte vir Akustika Chamber Singers voor.

Die koor is op 20 April saam met Nataniël te sien in Mass for the Good Princes. Die konsert word by die Atterbury-teater in Pretoria aangebied, en dit vorm deel van die Atterbury Klassiek-musiekfees wat van 18 tot 21 April aangebied word. Kaartjies vir Mass for the Good Princes is egter reeds uitverkoop.

Daarna wink ʼn koorfees in Mei, Akustika se galakonsert en vertonings by Momentum Beleggings Aardklop. Besoek Akustika se webwerf om meer oor die koor se komende konserte uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.