Amanda strooi lig in Senotaafsaal tydens Aardklop

Amanda Strydom. (Foto: Facebook)

Amanda Strydom, doyenne van die kabaretverhoog, strooi in Oktober lig in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument in Pretoria met die produksie Ligval, wat spesiaal vir die Momentum Beleggings Aardklop saamgestel is.

Strydom se eie musiek en poësie, asook dié van Herman van Veen, Bette Midler, Stef Bos en Bob Dylan, beloof om die vreugde en die lig wat uiteindelik weer van die verhoog af kan skyn, te vier.

“Verder wil ek nie te veel weggee nie, maar ek wil hê dit moet ʼn spirituele ervaring wees,” sê Strydom aan Maroela Media.

“Nie te swaar nie, maar ook vol lig, vreugde, liefde, passie en estetiese, poëtiese skoonheid. Net eenvoud en die trefkrag van die woord in sy suiwerste vorm, hetsy gesproke of gesing.”

Volgens Strydom, wat vanjaar 43 jaar in die vermaaklikheidsbedryf as sanger, aktrise en skrywer vier, is die Senotaafsaal ʼn magiese plek met soveel geskiedenis.

“Toe Alexa [Strachan, hoof- uitvoerende beampte van die kunstefees] my genader het om ʼn produksie vir die Senotaafsaal te skep, het ek onmiddellik aan ʼn titel begin dink.

“Die konnotasie aan hierdie besonderse plek is tog dat die lig elke jaar op 16 Desember om 12:00 op die Gelofte val. Die tye het verander, ons woon in ʼn nuwe Suid-Afrika en ek wil die lig laat val op dit wat goed is, wat vreugde bring, op dans in die lig – daarom die titel Ligval.”

Coenraad Rall behartig die klavierspel vir die produksie. Strydom en Rall stap al ʼn dekade lank die pad saam as kollegas en beste vriende.

“Ek en Coenraad het ʼn baie sterk band. Ek het so ʼn sterk naelstring nodig met iemand wat die musiekpad saam met my loop – ek dink enige sanger sal met my saamstem.”

Die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument. (Foto: Voortrekkermonument)

Sy vertel dat sy “effe verlore” was nadat haar pianis van 22 jaar, Janine Neethling, in 2012 met die skrywer en regisseur Deon Opperman getroud is en na Onrus in die Wes-Kaap verhuis het.

“Coenraad was in daardie stadium die verhoogbestuurder van die toneelstuk, Voor ek vergeet, wat ek saam met Hannes van Wyk gedoen het. Ek het op ʼn aand, net voor ek my lamp wou afskakel, besef Coenraad speel klavier en woon net twee blokke van my af in Westdene. Ek stuur toe vir hom ʼn boodskap en vra of hy dit sal oorweeg om vir my te speel,” vertel Strydom.

“Ek dink dit was 25 sekondes later toe sy antwoord deurkom: ‘Ja, Miss Mandy, natuurlik!’. En nou loop ons al 10 jaar ʼn pad saam en die skeppende proses is wonderlik. Teen hierdie tyd ken hy my só goed, hy weet wanneer ek asemhaal in ʼn lied, hy volg en dra my en is altyd bereid om my idees aan te pak en verder uit te brei. Die verwerkings wat hy vir Ligval geskep het, is asemrowend mooi.”

Ligval is op Vrydag 7 Oktober by die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument te sien. Die produksie is vir Aardklop geskep en sal slegs vir een aand te sien wees. Kaartjies kos R190 en is hier beskikbaar.

“Ek dink enigiemand wat ʼn pleister vir seer nerwe, ontvlugting, kos vir die siel en lig soek, sal ons produksie geniet,” sluit Strydom af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.