Anlia Etzebeth trotse Springbokvrou, ‘staan bankvas’ agter Eben

Eben en Anlia Etzebeth. (Foto: Anlia Etzebeth/Facebook)

Vir maande was die Rugbywêreldbeker ʼn reusegesprekspunt in die Etzebeth-huishouding – hoe kon Anlia dan nou anders as om ʼn liedjie vir haar man, Eben Etzebeth en die Springbokke te skryf?

“Ek wou eintlik al ʼn hele tydjie gelede ʼn liedjie vir die Wêreldbeker uitreik, veral omdat dit net een keer in vier jaar gebeur,” het Anlia aan Maroela Media gesê.

“Eben het my baie aangemoedig, en ek het geweet dat dit vir hom ook spesiaal sou wees.”

Anlia bieg dat sy nie beplan het om self “Saam, Suid-Afrika” te skryf nie, maar dat die tyd haar ingehaal het en dit bloot ʼn makliker uitweg was om dit self neer te pen.

Sy het egter geweet dat sy ʼn rugbytreffer-ghoeroe se hulp wou inroep – Robbie Wessels. Dié het nie net die liedjie gekomplimenteer nie, maar ook ingestem om sy stem daarvoor te leen.

“Die liedjie is bedoel vir ʼn groep mense, en ek het geweet dat dit ʼn groot liedjie moes wees. Dit was aanvanklik moeilik om te besluit watter kunstenaars om te vra, maar uiteindelik het dit so mooi uitgewerk met Ruhan du Toit en Karlien van Jaarsveld.”

Alhoewel sy nie geskryf het oor haar blik agter die Springbokskerms nie, het dit beslis as inspirasie vir die treffer gedien, erken Anlia.

Eben Etzebeth (Foto: NICOLAS TUCAT/AFP)

Sy vlieg 20 September Frankryk toe, en sien daarna uit om ná ses weke eindelik met Eben te herenig. Hy sterk tans aan nadat hy in die Springbokke se wedstryd teen Skotland weens ʼn skouerbesering die aftog moes blaas.

“Hy is oukei. Hy het ʼn paar rehabilitasiesessies nodig, dan is hy hopelik weer vinnig op die been en op die veld,” het sy gesê.

Totdat sy hom egter in persoon sien, probeer sy hom so goed as moontlik vanuit Suid-Afrika ondersteun.

Alhoewel Anlia in ʼn “tipies Suid-Afrikaanse huis grootgeword het wat altyd rugby gekyk het,” soos wat sy daarna verwys, het die Bokkoors eers veel later in haar lewe getref, bieg sy.

Haar kop was vol muisneste oor toneelspel en sang, en sy het nooit verwag dat haar loopbaan in die vermaakbedryf uiteindelik vervleg sou wees met dié bekende Suid-Afrikaanse sportsoort nie.

“Daar was al baie teleurstelling en verwerping in my loopbaan, en ek het dit nie altyd verstaan nie. Maar nou, as ek terugkyk, verstaan ek,” sê sy.

“Ek is regtig op ʼn goeie plek. Ek het my beste pel gekry en is getroud met hom. Die Here het altyd ʼn plan, en mens besef dit nie altyd nie.”

Anlia het Suid-Afrikaanse harte verower toe sy in Julie 2022 tydens Eben se 100ste toetswedstryd vir die Springbokke die volkslied gesing het. Die paartjie was toe nog net verloof, en koester dié hartroerende oomblik vandag nog.

v.l.n.r. Ruhan du Toit, Anlia Etzebeth, Robbie Wessels en Karlien van Jaarsveld. (Foto: Anlia Etzebeth/Facebook)

Sy het deur die jare heen haarself as aktrise en sangeres ingeburger, en is veral bekend vir haar rol as Sasha Richter in die kykNET-sepie, Getroud met Rugby.

“Ek het eintlik van kleins af geweet dat ek wou sing. Ek het vertonings met haarborsels [as mikrofoon] vir my familie gehou,” sê sy.

“Later het ek meer in rolprente begin belangstel. Dit is ook hoe ek besluit het om musiekteater te gaan studeer.”

Vandag staan Anlia in ʼn paar splinternuwe skoene: dié van Springbokvrou.

“Die res van die Springbokvroue is ongelooflik. Die ondersteuning onder hulle is so groot, dit is so lekker om deel van hulle te wees.”

Luister na “Saam Suid-Afrika” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Waarnemer ·

Anlia,die hele land is trots op Eben en staan bankvas agterhom en die sprinbok span.Go bokke,bring daardie goue beker terug huistoe

Niklaas ·

Altyd lekker om so ‘n oulike egpaar wat duidelik pasmaats is , te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.