Appel sing vir plaasaanvalslagoffers

Appel. (Foto: Theana Breugem)

Verwysings na plaaslewe en boerdery is nie verniet deurgaans te hoor in die lirieke van die Afrikaanse kunstenaar Appel, oftewel Christoph Kotzé, nie. Dié liedjieskrywer-sanger is self ʼn boer in murg en been en dié gemeenskap lê die “Lei my na die water”- sanger baie na aan die hart.

Daarom ondersteun en tree hy as gaskunstenaar op by die AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid se ambassadeursfunksie wat môre (Vrydag 19 Augustus) in die AfriForum Teater in Pretoria plaasvind.

AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid is in 2015 op die been gebring met die doel om slagoffers van geweldsmisdaad, en veral dié wat deur plaasaanvalle en -moorde geraak word, by te staan.

Dié eenheid help slagoffers met dienste soos berading en ontlonting – hetsy in persoon of telefonies, emosionele bystand tydens hofsake deur die hofverrigtinge saam die slagoffer by te woon of hulle daarvoor voor te berei en ondersteun ook slagoffers tydens hospitalisering indien moontlik.

Johan Kloppers, Izel Kruger, Magda Coetzee en Hennie Human van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid. (Foto: Forum Nuus)

Boonop help die eenheid met die skoonmaak van die misdaadtoneel, aankoop van kruiedeniersware of beddegoed, die opskerp van sekuriteit deur alarmstelsels te installeer, of staan slagoffers by met die betaal van dringende mediese uitgawes.

Dié dienste word tans deur vier voltydse personeellede sowel as 62 opgeleide vrywilligers landwyd gebied en word grotendeels vanuit die eenheid se slagofferondersteuningsfonds gefinansier.

Volgens Izel Kruger, kantoor- en projekkoördineerder van dié eenheid, het die ambassadeursfunksie ten doel om mense wat deur ’n plaasmoord of -aanval geraak is bymekaar te bring om hulle ervarings met mekaar te deel.

“Sodoende vorm hulle ’n ondersteuningsnetwerk en kan hulle self ook hul onderskeie gemeenskappe as ’n ambassadeur van die AfriForum-trauma-eenheid bystaan en ondersteun.”

Die geld wat tydens dié geleentheid ingesamel word, is ten bate van die slagofferondersteuningsfonds.

Die eerste ambassadeursfunksie is in 2019 aangebied, maar kon weens die Covid-19-pandemie nou eers vir ʼn tweede keer plaasvind.

Malindi Schoonraad, wie se man, Kallie, in Junie 2018 tydens ʼn plaasaanval op sy wildsplaas naby Rustenburg in Noordwes doodgeskiet is, het dié geselligheid in 2019 bygewoon en die gesê die trauma-eenheid het ʼn belangrike rol in haar en haar gesin se herstelpad gespeel.

“Ons lewe het onherroeplik verander ná my man se dood. Skielik is jou wêreld onder jou uitgeruk en moet jy drie kinders alleen grootmaak. Maar die Here se genade, vriende, familie én ʼn organisasie soos AfriForum maak dit vir ons soveel makliker. Ek dink die mense van die eenheid is engele op ons pad en is dikwels die ligtoring in hierdie moeilike omstandighede. Sonder hulle sou ons nie staande kon gebly het nie,” het Schoonraad destyds oor die werk van die trauma-eenheid gesê.

Kaartjies vir die ambassadeursfunksie kos R150 per persoon. Koop nou jou kaartjie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.