CheraLee, ʼn country-sangeres in murg en been

CheraLee. (Foto: Xavier Saer)

Die sangeres en liedjieskrywer CheraLee se pa, Frik van der Schyff, het van kindsbeen af die potensiaal in sy dogter raakgesien om eendag op groot verhoë mense te vermaak met haar musiektalent.

Haar passie vir musiek het sedertdien nie getaan nie en vandag het sy ʼn hele rits enkelsnitte, almal uit haar eie pen, agter haar naam.

Haar jongste enkelsnit, “Groei”, is juis geïnspireer deur haar pa se invloed en ondersteuning in haar lewe en sangloopbaan.

“My pa is nog altyd my steunpilaar wat my aanmoedig om my passie vir musiek uit te leef,” vertel CheraLee in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek het oor die jare as musikant deurlopend aan my vaardighede geslyp terwyl hy bankvas agter my staan en my groei as mens en as kunstenaar dophou en ondersteun. Ek is baie gelukkig om hom nog in my lewe te hê en hy is nog steeds my klankbord.”

Sy vertel haar pa het vir haar reeds op 13-jarige ouderdom ʼn platform geskep om as promosiekunstenaar op te tree by die kettingwinkels waar hy destyds werksaam was.

CheraLee. (Foto: Xavier Saer)

“Dit het vir my die geleentheid gegee om reeds van ʼn jong ouderdom af vertroud te raak met die verhoog en met ander musikante skouers te skuur. My broer, Stephen, was self ʼn kranige kitaarspeler en ons het later saam in die musiekgroep Failsafe gespeel. Dit het my soveel geleer en vir my ʼn platform gebied om my stem te ontwikkel.”

Sy het later as kelnerin by The Godfather-restaurant in Centurion ʼn Australiese sakeman ontmoet wat aangebied het om die opname van haar eerste album te finansier, wat haar loopbaan ʼn groot hupstoot gegee het. Sy werk vandag nog saam met Ludwig Bouwer, wat al 20 jaar lank haar musiek vervaardig.

“Ek het later in my loopbaan besef dat my passie by country-musiek lê en dat ek ʼn storieverteller van aard is. Ek hou daarvan om te skryf oor dinge wat ek in my eie lewe ervaar. Dit is vir my belangrik om my eie musiek te skryf en sodoende my stempel op die Afrikaanse musieklandskap af te druk.”

Sy vertel sy het altyd net in Engels gesing en dat sy as tweetalige sangeres (haar pa is Afrikaans en haar ma is Engels) selde daaraan gedink het om in Afrikaans te sing, totdat sy begin het – en nou is Afrikaans die taal van haar keuse wanneer sy lirieke skryf.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ʼn grafiese ontwerper wat al 14 jaar lank haar eie sakeonderneming bedryf.

“Ek is mal oor enige vorm van kuns en selfuitdrukking, en dit is my droom om eendag heeltyds musiek te maak.”

CheraLee woon tans in Centurion en is die ma van ʼn 15-jarige seun, Julian, ʼn 10-jarige dogter, Mikayla, en ʼn sesjarige seuntjie, Marlo.

CheraLee. (Foto: Xavier Saer)

“Ek is ʼn baie sosiale mens wat daarvan hou om tyd saam met familie en vriende deur te bring. Ons is mal daaroor om see toe te gaan. Wanneer ek alleen wil wees, gaan sit ek in my kamer en speel op my kitaar.”

Sy benadruk dat sy self haar musiek skep om seker te maak sy behou haar egtheid as kunstenaar. “Ek wil my eie stories met mense deel, soos wat country-sangers maar doen. Ek glo nie dat ek my volle potensiaal as kunstenaar kan bereik wanneer ek ander mense se liedjies sing nie.”

Dit was haar pa se woorde aan haar wat haar steeds elke dag motiveer om aan te hou musiek maak. “Sy woorde ‘moet jou nie steur aan wat mense sê nie’ het by my vasgesteek en my gemotiveer om in myself te glo. Die dag toe ek in myself begin glo het, het ek my toegewy aan die ontwikkeling en groeiproses van my vaardighede as sanger, liedjieskrywer en musikant.”

“Groei” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.