Clapton-kitaar vir byna R10 miljoen verkoop

Eric Clapton se 1968 Martin D-45-kitaar wat op die veiling verkoop is (Foto: Timothy A Clary/AFP)

ʼn Kitaar wat aan Eric Clapton behoort het, is vir $625 000 (meer as R9.9 miljoen) op ʼn veiling verkoop. Julien Auctions sê verskeie rock-memorabilia is tydens die veiling vir byna $5 miljoen (sowat R79 miljoen) verkoop.

Die kitaar was die hoogtepunt van die veiling verlede naweek by die Hard Rock Cafe in New York. Kopers kon ook aanlyn ʼn bod maak op die akoestiese 1968 Martin D-45-instrument. Clapton het in 1970 dié kitaar gespeel tydens ʼn debuutkonsert van die musiekgroep Derek and the Dominos. Die groep is verantwoordelik vir die klassieke liedjie “Layla”.

Die afslaers het verwag dat die kitaar vir tussen $300 000 en $500 000 sou verkoop. Alhoewel die kitaar verwagtinge oortref het, is dit slegs ʼn breukdeel van die rekord $6 miljoen wat in 2020 vir Kurt Cobain van Nirvana se akoestiese kitaar betaal is. Hy het dié instrument tydens ʼn bekende MTV Unplugged-vertoning bespeel.

Ander kitare wat onder die hamer gekom het sluit ʼn 1976 Gibson Explorer in van U2 se The Edge wat $437 500 gehaal het, en ʼn Fender Stratocaster van Pink Floyd se David Gilmour wat $200 000 gehaal het.

Byna 1 000 items is tydens die “Icons & Idols: Rock ʼn’Roll”-veiling verkoop. Memorabilia van The Beatles, Guns N’ Roses, Nirvana, Michael Jackson, Amy Winehouse, Whitney Houston, Lady Gaga, Madonna, Elvis Presley en die Rolling Stones het alles onder die hamer gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.