Deidré Barnard ‘beskerm haar hart’

Deidré Barnard. (Foto: Gerhard van Rooyan/GVR Productions)

Nimmer as te nooit het Deidré Barnard gedink dat ʼn rol in ʼn musiekspel tot haar eie platekontrak sou lei nie.

Deidré was maar 15 jaar oud toe sy die eerste keer die waters van die musiekbedryf getoets het met haar deelname aan die eerste seisoen van die talentsoekprogram Die Kontrak.

Sy was vasbeslote, onthou sy, om haar musiekdroom ʼn werklikheid te maak.

“Ek wou nie wag nie,” vertel Deidré aan Maroela Media.

“Maar ek was jonk en hoewel ek toe gedink het dat ek sterk genoeg was om die uitwerking van sosiale media teen te staan, besef ek vandag dat ek nie reg was nie.”

Hoewel sy die derde plek in die kompetisie behaal het, het sy na afloop daarvan met haar toekoms geworstel. Sy het nie geweet of die musiekdrome wat uit haar kinderdae spruit tog die pad is wat sy moet volg nie.

(Foto: Gerhard van Rooyan/GVR Productions)

“Ek het egter besef dat die Here eintlik net vir my wou wys dat ek geduldig moet wees, dat ek moet wag.”

Deidré het in ʼn klein Kaapse dorpie, die Strand, grootgeword.

“Dit was wonderlike kinderjare,” onthou sy.

Sy het tydens haar laerskoolloopbaan in musiekgroepe gespeel, talle kere aan die eisteddfod deelgeneem en in die koor gesing. Haar ma was die kultuurhoof van die laerskool waarin sy was en het self ook musiek studeer. Musiek het van kleins af ʼn alomteenwoordige rol in haar lewe gespeel.

Sy het egter vinnig in haar gr. 8-jaar besef dat die musiek wat deur die klaskamers van haar laerskool gevloei het, nié in die hoërskool teenwoordig gaan wees nie.

“Dit het gevoel asof daar nie waardering vir my passie was nie. Ek was ʼn vreeslike ongelukkige tiener.

“Ek het toe nie besef waarom ek so moeilik en ongelukkig was nie, maar vandag weet ek dit is omdat ek nie aan enige musiekaktiwiteite kon deelneem nie. Ek was ʼn regte gebalde vuis.”

Aan die einde van haar gr. 9-jaar het Deidré haar ouers gesmeek om haar skoolloopbaan deur tuisonderrig te voltooi, en dit is presies wat sy gedoen het.

“Dit is ook die rede waarom ek vir ʼn jaar aan Die Kontrak kon deelneem.”

(Foto: Gerhard van Rooyan/GVR Productions)

Ná skool het Deidré ʼn kursus in musiekvervaardiging begin, maar vanweë die hoë koste daarvan en die gevoel van ʼn tuiste wat by die Amerikaanse instelling waardeur sy studeer het, ontbreek het, het sy besluit om ʼn oorbruggingsjaar te neem.

Dié jaar was egter allermins een van rustigheid. Dit was 2022 en sy het pas ʼn rol in die treffermusiekspel, Die Gelofte, losgeslaan.

Haar oudisie het Johan Vorster en Jacomien de Wet tot so ʼn mate beïndruk dat hulle verskeie afsprake met haar gemaak het, insluitend een in haar tuisdorp om haar ouers te ontmoet.

ʼn Platekontrak het gewink.

Die Gelofte was ongelooflik lekker,” vertel Deidré, wat selfs ʼn keer of twee vir Bernice West, wat een van die hoofrolle vertolk het, ingestaan het.

“Ek wou nog altyd in ʼn musiekspel wees.”

Die tyd wat sy in Pretoria deurgebring het om deel van Die Gelofte te wees, het haar voorberei vir die lewensveranderende skuif wat sy vroeër vanjaar van die Kaap na Pretoria moes maak.

“Dit was moeilik, ek kom van ʼn klein dorpie af en is beslis nog nie gewoond aan die verkeer nie,” skerts sy.

Deidré ‘beskerm haar hart’

Ná ʼn lang pad van uitdagings, worstelinge met haar musiekdrome en opwindende nuwe geleenthede het Deidré haar eerste enkelsnit, “Beskerm jou hart”, vroeër vanjaar uitgereik.

“Ek het deur ʼn moeilike tyd gegaan, ek het net hierdie behoefte gehad om hierdie boodskap te deel.”

(Foto: Gerhard van Rooyan/GVR Productions)

Iemand na aan Deidré het hierdie einste boodskap, om haar hart te beskerm, gedurig vir haar gesê. Die woorde het deur haar lewe begin vloei en sy het haarself na ʼn liedjie gewend om dit op haar manier aan mense te probeer oordra.

“Bly gegrond in wie jy is en wie Hy is, dan kan die lewe kom, maak nie saak wat na jou kant toe gegooi word nie.

“Die lewe kan jou skaaf en skuur soos wat hy wil, as jy weet waar jy vandaan kom, gaan jy altyd as oorwinnaar by die anderkant uitstap.”

Kyk na die musiekvideo van “Beskerm jou hart” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.