Demi Lee, Irene-Louise en kie vir gesogte Aitsa benoem

Demi Lee Moore. (Foto: Willem Botha)

ʼn Handjievol van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf is vanjaar vir Aitsa-toekennings benoem in die kategorie vir kunstenaar van die jaar.

Bernice West, Appel, Demi Lee Moore, Elvis Blue, Riaan Benadé en Irene-Louise van Wyk het almal ʼn suksesvolle musiekjaar agter die rug, met treffers wat vir weke aaneen boaan treffersparades en op radiospeellyste geboer het.

Bernice se “Lyfie”, Demi Lee Moore se “Wie se hart breek jy vanaand?”, Riaan Benadé se “Spontaan” en Irene-Louise se “Tekkies brand” is ongetwyfeld van die jaar se grootste Afrikaanse treffers.

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie)

Die Aitsas is deur Pretoria FM geskep as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, word tans op Pretoria FM uitgesaai. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Stemme vir jou gunstelingliedjie uit dié benoemings kan op Pretoria FM se webwerf uitgebring word.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria.

Kaartjies vir die geleentheid kos R250 per persoon. Daar is ook ʼn spesiale aanbod van R200 per persoon vir groepbesprekings van tien persone of meer. Dié aanbod is tot 14 November geldig.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oljetter ·

Dié benoemings onderstreep die klaaglike mislukking waarin Afrikaanse musiek ontaard het.

George ·

Die “artists” kan nie SAMAs wen nie, toe maak hulle hul eie “toekenningsaande” daar is ek dink 4 of 5. Verbaas dat Demi self kan regop staan sonder Steve.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.