Die Melkterte se Lucinda: ‘As musiek eers in jou bloed is, mis jy dit’

Lucinda Neethling kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Lucinda Neethling kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

As 16-jarige skoolmeisie van Jeffreysbaai het Lucinda Neethling (33) nooit kon droom dat sy en haar skoolvriende se “aanmekaar geplakte” band, Die Melktert Kommissie, die wenners sou wees van die heel eerste Jip Rockspaaider-kompetisie nie.

Dit was 2002 en die lewe het weer in die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging begin prikkel. Neethling onthou die kompetisie nog goed.

“Daai jaar was die eerste jaar wat Jip ʼn kompetisie van stapel gestuur het om Afrikaanse groepe ʼn kans te gee om deel te neem en dan kon jy geld en ʼn musiekvideo wen,” vertel sy tydens ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ons het besluit om deel te neem, maar ons het nog nie ʼn band gehad nie. Ons was almal saam op skool en het die groep aanmekaar geplak vir die kompetisie. Ons het in Bloemfontein aan die eerste uitdunronde deelgeneem. Ek kan dit sewentien jaar steeds nie glo nie, maar toe wen ons die eerste Rockspaaider in Potchefstroom,” sê Neethling.

Met hulle prysgeld het die groep hulle debuutalbum, Volroom, opgeneem. “En Die Melktert Kommissie is só gebore.”

Sy vertel sy en die ander groeplede ag mekaar as familie. “Dit is wat gebeur as jy vir so lank saam bly en saam toer,” verduidelik sy.

Jean-Marie Vlok-Korff, Jan-Adriaan Korff, Tim van der Westhuizen en Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie tydens die 'Bands for Bricks'-konsert verlede jaar. (Foto: Facebook/Die Melktert Kommissie)

Jean-Marie Vlok-Korff, Jan-Adriaan Korff, Tim van der Westhuizen en Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie tydens die ‘Bands for Bricks’-konsert verlede jaar. (Foto: Facebook/Die Melktert Kommissie)

Neethling skryf lirieke en melodieë en is die voorsanger vir die groep. Jean-Marie Vlok-Korff bespeel die elektriese kitaar, Jan-Adriaan Korff die tromme en Tim van der Westhuizen baskitaar.

Die vierstukgroep het in 2009 besluit om verskillende rigtings in te slaan en vir eers die musiekinstrumente tweede prioriteit te maak en ʼn hiatus te neem.

“Ek het by Tukkies gaan studeer en die res het Kaap toe getrek en voltyds begin werk. Ons het besluit om op die goed te fokus waarop ons nog nie gefokus het nie. Ek het direk uit matriek uit voltyds in die band begin speel en ek het gevoel daar is bietjie van ʼn gaping – ek wou nou ook nie op die ouderdom van 30 by Tukkies instap vir die eerste keer nie,” lag sy.

“As musiek eers in jou bloed is, mis jy dit verskriklik. En jy mis dit om dit te deel met die mense vir wie jy so lief is,” sê sy oor die groep se stelselmatige hereniging.

Hulle het in 2019 al hoe meer musiek begin maak en twee nuwe enkelsnitte getiteld “Weier” en “Irrelevant” uitgereik.

“’Weier’ is ʼn tipiese ou Melktert Kommissie-liedjie; dis vinnig met verskriklik baie woorde. Tipies 2002 Melktert Kommissie.”

In 2020 beplan hulle om soveel as moontlik vertonings te doen, maar bieg dat hulle geen vaste planne het nie. Omdat die res van die groeplede in die Kaap gebaseer is en sy in Johannesburg, is hulle genoop om hulle musiek via WhatsApp met mekaar te deel en in te oefen.

“Dankie tog vir WhatsApp! Ons spot en sê ons is ʼn WhatsApp-band!”

Lucinda is 'n talentvolle kunstenaar wat lief is vir skets in balpuntpen. (Foto: Instagram/Lucinda Neethling)

Lucinda is ‘n talentvolle kunstenaar wat lief is vir skets in balpuntpen. (Foto: Instagram/Lucinda Neethling)

Wanneer Neethling nie met solo-vertonings saam met ander bekende sangers soos Bouwer Bosch besig is nie, leef sy haar kunstenaarshart uit met skilderye en balpuntsketse wat soms in galerye uitgestal word.

“Ek bied pilates-klasse ook aan, maar ek het nou onlangs my ateljee prysgegee om weer voltyds op musiek en kuns te fokus. Ek het pilates begin doen omdat mens soms kontak met mense mis as jy so [alleen] in die huis sit en teken.”

Sy hou daarvan om tyd alleen te spandeer en dit help ook wanneer sy lirieke skryf. “Dis waar die teken lekker is, want ek kry baie tyd om te dink en dan kom daar baie lirieke uit.”

Neethling sê ook sy droom daarvan om eendag ʼn boek uit te bring wat haar gedigte of gedagtes met haar tekeninge kombineer. “2020 is ʼn organiese jaar vir my, so ek gaan skryf en die energie insit – dis nie dat ek net wil terug sit en die dinge laat gebeur nie, maar ek wil net nie dinge forseer waarvoor ek self nog nie reg is nie.”

  • Die Melktert Kommissie is op Saterdag 1 Februarie te sien by Railways Café in Irene, Centurion. Hulle is ook op 28 Maart saam met Klopjag te sien by Loftus Park in Pretoria.
  • Die Melktert Kommissie kan op Facebook, Instagram en YouTube gevolg word vir meer inligting oor musiek en optredes.
  • Lucinda Neethling het met Leonie Bezuidenhout in die Maroela Media-ateljee gesels. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.
  • Kyk na Die Melktert Kommissie en Klopjag se Tertjag-vertoning op Showmax.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kol ·

Een van die beste Afrikaanse bands! En luister nou nog na hul musiek. Baie memories!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.