Die Ventertjies slaan nou kitaar by Universal

Foto: Die Venterjies se Facebook-blad.

Nicola (20) en Lindie-Lee (17) Venter, beter bekend in Suid-Afrikaanse musiekkringe as Die Ventertjies, is die nuutste kunstenaars om ʼn platekontrak by Universal Studios los te slaan.

“Die bekroonde kitaar-duo is die lieflinge van die boeremusiekbedryf. Hierdie twee sussies is talentvol en wanneer hulle begin tokkel, is almal op hulle voete. Hulle bied ’n unieke vroulike aanslag en x-faktor in ’n genre wat geneig is om meer manlik te wees en daarom wil ons graag in hulle loopbaan belê en die toekoms saam met hulle aanpak,” vertel Christien de Klerk, Universal Musiek se skakelbestuurder vir Afrikaanse kunstenaars, oor hulle opwindende besluit om ’n platekontrak met dié veelsydige musikantpaar te sluit.

Die susters, wat ʼn vastrap-gunsteling geword het, het in ’n musikale huis grootgeword en volg in die voetspore van hul pa, Hennie, wat self ook al jare lank in orkeste speel. Alhoewel hulle nie formele musiekopleiding gehad het nie, kan Nicola (melodie-kitaarspeler) nege instrumente speel, waaronder die kitaar, baskitaar, dromme, klavier, klawerbord, banjo, mandolien, mondfluitjie en trekklavier, en Lindie (baskitaarspeler) vier, naamlik die kitaar, baskitaar, klawerbord en banjo. Albei het eers in hulle pa se orkeste gespeel voordat hulle besluit het om ’n duo te vorm.

Hulle het in 2016, as skoliere, naam gemaak met hulle debuut-album, Vlinder Vingers, wat hulle gewildste enkelsnit, “Lentevrolikheid”, opgelewer het. Dié lied se video is al deur meer as 220 000 mense op YouTube gekyk.

Wikkel Vingers, hulle tweede album, het aan hulle ʼn Satma-toekenning en twee Ghoema-nominasies besorg. Die groep se derde album, Vanaand Dans Ons Weer, is in 2019 uitgereik en is reeds ’n gunsteling op elke partytjiespeellys. Sedertdien het dié groep ook al by verskeie groot feeste en funksies oral in die land opgetree.

Die twee is tans in die beplanningsfase van ʼn nuwe album en het hul ondersteuners uitgenooi om voorstelle te maak oor die musiek wat hulle graag op die album sal wil hoor. “Ek het ook al drie liedjies geskryf,” het Nicola in ʼn onlangse video op hul Facebook-blad gesê.

Die duo sluit aan by ’n lang lys plaaslike en internasionale kunstenaars, waaronder die Klipwerf Orkes, Chereé, Fatman, Kosie Beukes, Robbie Wessels, Leah en vele meer, wat ook deel is van die Universal-gesin.

“Vir ons is dit ’n groot eer om ’n kontrak met Universal Musiek te teken. Ons is opgewonde oor hierdie nuwe uitdaging en musiekfamilie wat ons bygekry het,” vertel die sussies.

Die duo beskryf hulself as uniek en passievol en meen dat hulle inspirasie en genot put uit die werk van Ricardo Borman en Hansie Roodt en graag nog eendag saam met die Klipwerf Orkes en Die Campbells sou wou werk. “Ons kan nie ’n spesifieke persoon uitsonder na wie ons opkyk nie, want elkeen het iets anders om te bied. Ons leer, waar ons kan, by elke kunstenaar,” sê hulle.

Oor die uitdaging daarvan om as susters saam te werk, verklap die meisies: “Ons stamp soms koppe wanneer dit by musiekkeuses kom, omdat ons nie noodwendig altyd van dieselfde musiek hou nie, maar gelukkig het ons al geleer hoe om dit uit te klaar. Die lekkerste deel daarvan om saam op te tree, is die feit dat ons gemaklik is met mekaar en altyd daar is vir mekaar en dit maak ons rustig.”

Die twee gaan binnekort by die varsTRAP-konsert op 23 November by Carnival City te siene wees, en beplan ook ʼn toer na Port Edward gedurende Desember. Die naweek sal hul ondersteuners hulle op 4 Oktober by die Big Five Restaurant in Phalaborwa sien, asook die Steenbokpan se Boeremark op 5 Oktober in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mel ·

Fantasties! My 5jarige dogtertjie kyk hulle video’s voos op YouTube!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.