Dihan maak debuut met ‘Geheim’

Dihan Schoeman

Dihan Schoeman (21), wat ook bekend is as Jacques Olivier in Binnelanders, het onlangs sy eerste oorspronklike enkelsnit, “Geheim”, uitgebring.

Dihan vertel aan Maroela Media dat dit nog altyd sy droom was om ʼn sanger te wees, en dat hy nog altyd baie moeite in dié droom belê het.

“Ek het nooit op skool drama of musiek as vakke gehad nie; so ek het dit altyd in my eie tyd gedoen. Dit was ook my eerste oudisie ooit toe ek die rol in Binnelanders gekry het,” sê hy.

Dihan en sy mede-Binnelanders-speler, Daniah de Villiers (Trudie), het ʼn video gemaak van hulle twee wat Miley Cyrus se “The climb” sing. Dié liedjie het goeie aftrek gekry en is reeds meer as 10 000 op YouTube gekyk.

Dihan het na sy Binnelanders-faam meer te doen gekry met bekendes in die Afrikaanse musiekbedryf, en dáár het almal hom aangemoedig om musiek te begin uitbring.

“Ek het na mense soos Elandré, Brendan Peyper en Refentse geluister om uit te vind waar my genre van musiek sal inpas,” vertel hy.

Dihan het toe self sy eerste oorspronklike liedjie by ʼn klein ateljee wat hy by sy huis ingerig het, opgeneem.

“Nou sal ek beslis my musiekstyl as pop beskryf. Ek is mal oor Katy Perry en sy het ʼn groot invloed op my musiek, so my styl is soortgelyk aan hare – bubblegum pop.”

Dihan het self die musiek en melodieë vir “Geheim” geskryf terwyl hy voor sy klavier en kitaar gesit het. Hy sê hy gaan klop graag by sy ma aan om met sy musiekproses te help omdat sy ʼn geweldige goeie oor vir musiek het.

“ ‘Geheim’ gaan oor ʼn liefde wat jy vir ʼn persoon het, waarvan ander mense nie weet nie omdat hulle nie die verhouding goedkeur nie of vir ʼn ander rede. Dit is oor iemand wat agter hul drome wegkruip, omdat hulle lief is vir die persoon. Hulle gee nie om om die persoon se geheim te wees nie,” sê Dihan.

ʼn Musiekvideo vir “Geheim” word binnekort vrygestel. Vir meer inligting besoek Dihan se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.