Dirk Meerkotter-kuns in Pretoria uitgestal

‘n Foto wat in 1974 van Dirk Meerkotter, een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, geneem is. (Foto: Verskaf)

ʼn Retrospektiewe kunsuitstalling van Dirk Meerkotter (1922-2017), een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, se kunswerke kan van Sondag 12 Maart af by die Pretoria Kunsmuseum besigtig word.

Die kunsuitstalling, wat deur die Dirk en Annie Meerkotter Familietrust aangebied word, volg op ʼn uitstalling wat in 2022 ter viering van Dirk se lewenswerk in Linden, Johannesburg, gehou is.

Musiekliefhebbers kan ook uitsien na ʼn verskeidenheid klassieke musiekkonserte wat elke Sondag tot 21 Mei aangebied word. Op 12 Maart skop Helena Hettema die kunsprogram af met ʼn kabaretvertoning, My ma en pa was mal oor Parys.

Franco Prinsloo, Christopher Vale en Eugene Joubert is te sien in die musiekproduksie, Twee liefdes – ʼn kunsliedreis, en dan is daar ook kooruitvoerings deur die Conwonnité Choir en Veni Cantare Choir, en musiekuitvoerings deur onder andere Magda de Vries, en Marcel en Deryn Dednam.

Gerrit Meerkotter, Dirk se seun, sê die uitstalling het ten doel om sy pa se lewenswerk te huldig en die Dirk en Annie Meerkotter Familietrust se strewe na die bevordering van die kunstebedryf ʼn hupstoot te gee. “Ons het ʼn behoefte daaraan om my pa se lewe en sy kuns te vier, en wat is dan beter as om dit op hierdie manier te doen.”

Gerrit sê verder dit is syns insiens ook ʼn viering van sy ma, Annie, se lewe en sy ouers se gedeelde liefde vir musiek, veral orrel- en koormusiek.

“My ma was ʼn ongelooflike vrou met ʼn ewe groot liefde vir musiek as my pa. Sy het hom al die jare bygestaan en ook toegesien dat ons gesin versorg word.”

Een van die loodglasvensters wat Dirk Meerkotter vir die NG kerk Lindenpark geskep het. (Foto: Verskaf)

Gordon Froud, hoof van die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), is die uitstalling se kurator. Dit is ʼn versameling van die verskeidenheid kunswerke wat Meerkotter oor ʼn tydperk van sewe dekades geskep het.

Afgesien van kunswerke wat deur die trust en die museum besit word, word werke wat Dirk vir ander instellings soos die SAUK, Absa en First Rand geskep het, ook ten toon gestel. Voorbeelde van Dirk se keramiekwerk en ʼn multimedia-tentoonstelling van loodglasvensters wat hy vir die NG  Lindenpark-gemeente geskep het, word ook aangebied.

Die trust bestaan al ʼn geruime tyd en die oogmerk is om ʼn bydrae tot jong kunstenaars, skeppend of uitvoerend, se loopbane te maak. Geld wat met verkope van die kunswerke gemaak word, word aan die trust geskenk.

Dirk het in 1950, vóór 30-jarige ouderdom, al sy eerste solo-uitstalling by die Constantia-galery in Johannesburg aangebied. Hy het op 55 as apteker afgetree en van toe af voltyds as kunstenaar gewerk. Hy is in 2017 in die ouderdom van 95 dood.

Die kunsuitstalling kan van Sondag 12 Maart om 10:00 tot Sondag 21 Mei besigtig word. Konserte begin om 15:00 en kaartjies is by Quicket te koop. Vir enige navrae stuur ʼn e-pos aan Gerrit Meerkotter na [email protected] of besoek die Dirk Meerkotter-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.