Dirk Meerkotter-kuns gevier met uitstalling, musiek

‘n Foto wat in 1974 van Dirk Meerkotter, een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, geneem is. (Foto: Verskaf)

Een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, Dirk Meerkotter (1922–2017), se lewenswerk word tot 20 Augustus gevier met ʼn kunsuitstalling wat in Johannesburg aangebied word.

ʼn Versameling van Meerkotter se kunswerke, onder meer ‘n multimedia-tentoonstelling van loodglasvensters wat hy vir die NG kerk Lindenpark geskep het, word by die Hoërskool Linden se Cor Dirks-saal ten toon gestel.

Gerrit Meerkotter, Dirk se seun, vertel aan Maroela Media dat hierdie uitstalling ʼn inisiatief van die Meerkotter-familie is en op ʼn unieke wyse hulde aan sy pa bring.

“Ons het ʼn behoefte om my pa se lewe en sy kuns te vier, en wat is dan beter as om dit op hierdie manier te doen.”

Dit is myns insiens ook ʼn viering van Annie Meerkotter, Dirk se vrou, se lewe en die egpaar se liefde vir musiek, veral orrel- en koormusiek.

“My ma was ʼn ongelooflike vrou met ʼn ewe groot liefde vir musiek as my pa. Sy het hom al die jare bygestaan en ook toegesien dat ons gesin versorg word,” sê Gerrit.

Een van die loodglasvensters wat Dirk Meerkotter vir die NG kerk Lindenpark geskep het. (Foto: Verskaf)

Daarom het die familie besluit om musiekuitvoerings, wat koorsang en ʼn kabaretprogram insluit, by die kunsuitstalling te inkorporeer.

Gerrit sê hoewel dit vir hom ʼn nuwe ervaring is om ʼn uitstalling te organiseer, is hy opgewonde om te sien hoe die samekoms van kuns en musiek deur besoekers ervaar word.

Die eerste konsert op 16 Augustus was ʼn uitvoering deur die Chanticleer Singers, onder leiding van Richard Cock. Cock het Meerkotter se kunswerke as inspirasie gebruik om die musiekprogram saam te stel.

In die tweede konsert, wat op 18 Augustus plaasvind, word ʼn uitstalling van sy kunswerke gekombineer met ʼn kooruitvoering deur die Lindenkoor, jeugkoor van die Hoërskool Linden in Johannesburg.

Die koor het ʼn uitgebreide repertoire en gehore kan uitsien na gunstelinge uit bekende musiekblyspele, asook Afrikaanse volksliedjies en ballades en kontemporêre musiek.

Hierdie koor lê die familie na aan die hart omdat al die Meerkotter-kinders in die Hoërskool Linden was en ook aan koorsang deelgeneem het.

Die kunsuitstalling word Saterdag afgesluit met ʼn kabaretprogram deur Helena Hettema, onder begeleiding van Elsa Strating, waarin daar hulde gebring word aan Meerkotter en die kunswerke wat hy in Parys geskep het.

Die Franse hoofstad het Dirk en Annie na aan die hart gelê, aangesien hulle weens sy kunstenaarsverblyf by die Cité Internationale des Arts gereeld tyd hier deurgebring het.

‘n Selfportret wat Dirk Meerkotter in 1950 geskilder het. (Foto: Verskaf)

Gordon Froud, hoof van die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), is die uitstalling se kurator. Dit is ʼn versameling van die verskeidenheid van kunswerke wat Meerkotter oor ʼn tydperk van sewe dekades geskep het.

Meerkotter het voor 30-jarige ouderdom sy eerste solo-uitstalling by die Constantia-galery in Johannesburg in 1950 aangebied.

Tussen 1951 en 2009 het Meerkotter 87 solo-kunsuitstallings oor die hele Suid-Afrika en Namibië heen aangebied. Hy het aan talle groepuitstallings in Suider-Afrika, Europa, Latyns-Amerika en in die VSA deelgeneem en in die sewentigerjare het hy ook uitnodigings ontvang om aan die Florence- en Sao Paulo-biënnales deel te neem.

Meerkotter het in 1992 die FAK se toekenning vir besondere kultuurprestasie ontvang en in 2001 is ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) aan hom toegeken vir sy buitengewone bydrae tot die visuele kunste.

Dirk Meerkotter at work on ceramic mural for Phillips Radio Factory_Verskaf

Meerkotter het op 55 afgetree as apteker en van toe af heeltyds as kunstenaar gewerk. Hy is in 2017 in die ouderdom van 95 dood.

Gerrit sê ten slotte dat die uitstalling ook ten doel het om die Dirk Meerkotter-trust se strewe na die bevordering van die kunstebedryf ʼn hupstoot te gee.

Die trust bestaan al ʼn geruime tyd en die oogmerk is om ʼn bydrae tot jong kunstenaars, skeppend of uitvoerend, se loopbane te maak. Geld wat met verkope van die kunswerke gemaak word, word aan die trust geskenk.

Die kunsuitstalling kan nog Donderdag en Saterdag van 18:00 af besigtig word. Dit kan ook buite hierdie tye besoek word, maar die besigtigings moet vooraf gereël word. Konserte begin 19:30 en die kaartjies is by Quicket te koop.

Vir enige navrae stuur ʼn e-pos aan Gerrit Meerkotter na [email protected] of besoek die Dirk Meerkotter-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.