Eerste enkelsnit vir jong straatsanger

Naelon Andrews. (Foto: Facebook via Naelon Andrews Music)

Naelon Andrews. (Foto: Facebook via Naelon Andrews Music)

ʼn Jong gospelsanger van George in die Wes-Kaap het mense op straat só betower met sy sang en kitaarspel, dat hulle ʼn selfoonvideo daarvan die kuberruim ingestuur het wat soos ʼn veldbrand versprei het.

Vandag kan hy spog met ʼn platekontrak én ʼn splinternuwe enkelsnit. Dit klink dalk soos die storielyn van ʼn fliek, maar dit is inderwaarheid die lewensverhaal van Naelon Andrews.

Andrews (21) het in April vanjaar meer as 600 000 sosialemediagebruikers se harte, asook dié van die radio-omroeper Ruben Delmage en die span van GrootFM aangegryp met ʼn selfoonvideo waarin hy gospelliedjies in ʼn kantoorgebou in George uitvoer.

Dié video het ook Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music, se aandag getrek. Boshoff het net daar en dan besluit om vir Andrews in die GrootFM-ateljee met ʼn platekontrak te verras. Jessica Basson het oorspronklik dié video geneem en op Facebook gedeel.

Naelon Andrews saam met die span van GrootFM en Universal Musiek. Van links na regs: Ruben Delmage, Naelon Andrews en Pieter Cloete. Agter staan Bino Boshoff. (Foto: Facebook via GrootFM)

Naelon Andrews saam met die span van GrootFM en Universal Musiek. Van links na regs: Ruben Delmage, Naelon Andrews en Pieter Cloete. Agter staan Bino Boshoff. (Foto: Facebook via GrootFM)

Andrews se weergawe van die gewilde gospelliedjie “Rooftops”, oorspronklik deur die groep Jesus Culture, is pas as sy eerste enkelsnit uitgereik. Hy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dit voel goed om sy eie enkelsnit te hê en dat sy lewe baie verander het sedert Basson die land, en selfs mense in Nieu-Seeland, van hom bewus gemaak het.

“Mense respekteer my nou,” vertel hy. “Mense vra my baie gereeld uit oor vertonings en waar hulle my sal kan sien optree – iets wat hulle nooit vantevore gedoen het nie. Hulle is ook baie geïnteresseerd in my en wat ek volgende gaan aanpak.”

Hy sê dat dit vir hom ʼn logiese stap was om “Rooftops” as sy eerste enkelsnit uit te reik, aangesien dit die liedjie is wat sy loopbaan laat vlamvat het.

“Dit is die eerste liedjie wat die hele land my hoor sing het en daarom het ek gevoel ek moet hom doen,” sê hy.

Naelon Andrews. (Foto: Facebook via Naelon Andrews Music)

Naelon Andrews. (Foto: Facebook via Naelon Andrews Music)

Die musiekvideo vir “Rooftops” is ook op YouTube geplaas en hy vertel dit was vir hom ʼn “vreemde ervaring” om dié video te skiet. “Ons het die eerste gedeelte geskiet terwyl ek die liedjie opgeneem het en daarna moes ek ook in die strate sing met my kitaar. Dit was als baie nuut vir my, maar dit was ʼn baie goeie ervaring.”

Hy beplan om later vanjaar ʼn vollengte album uit te reik. “Ons is besig om liedjies bymekaar te maak vir die album,” verklap Andrews.

Volgens Andrews gaan hy homself slegs op gospelmusiek toespits. “Ek móét – dit is my roeping.”

“Rooftops” is beskikbaar vir aankope op digitale platforms soos Apple Music en Spotify. Aanhangers kan hom en sy vertonings volg op sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vanessa ·

Wow! baie baie mooi Naelon. Ek is self mal oor hierdie liedjie. Weldgedaan, kan nie wag om meer van jou jong man, te hoor nie.

Milda ·

Well done!! Jy het ‘n pragtige stem. Sterkte met jou loopbaan, Naelon.

Elaine ·

Liedjie op Itunes. Gekoop. Dankie Naelon. Gaan dit geniet om te luister elke dag. Ek glo dat jy ‘n pragtige sangloopbaan sal hê.

Martina ·

Hou so aan Naelon jy sal nog groot naam maak.. Hou jou oe op Jesus ????????????

MARTINA ·

… Hou so aan Naelon jy sal nog groot hoogtes beryk met die hulp van Ons Liewe Vader.. Hou jou oe op Jesus … Amen

GOD BLESS YOUR

Liza ·

Kyk my computer het nie klank nie, maar ek het op my sel nou Naelon se video gekyk….goeie hemel dis so so mooi ek het nou lekker getjank……seun jy gaan nog ver kom en jou stem is ongelooflik mooi, mag jou loopbaan vorentoe so geseend wees en veral omdat jy ‘n pad loop met ons Abba Vader. Dankie ook vir die mense wat hom raak gesien het…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.