Eet Kreef Herleef!: ‘Ralph sou só trots gewees het’

Laudo Liebenberg. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Met sy diep, rasperige stem het Laudo Liebenberg die Suid-Afrikaanse musiektoneel betree as voorsanger vir die Engelse musiekgroep aKING.

Hoewel hy al saam met kunstenaars soos Francois van Coke en Die Heuwels Fantasties op hulle Afrikaanse snitte gesing en geskryf het, het hy pas sy eerste Afrikaanse solo-enkelsnit, “Ek kan nie wag”, uitgereik.

Liebenberg vertel sy vrou, Cara, het vir hom as verjaarsdaggeskenk ateljeetyd by The Nothing Club-ateljee in Kaapstad gekoop. “Ek het toe nie meer verskonings gehad nie,” vertel hy laggend.

“Ek kan nie wag” is saam met Hunter Kennedy geskryf en deur Fred ten Hartog vervaardig. “Die liedjie gaan oor eensaamheid. Dit gaan of oor iemand wat jy verloor het of ʼn stuk van jouself wat jy verloor het, namate tyd verloop het. En dan die hoop dat jy weer ʼn konneksie sal maak met dit wat jy verloor het.”

Die musiekvideo vir die liedjie het sowat 13 000 trefslae op YouTube. Hy vertel hy het vir die eerste keer in ʼn lang tyd kreatief betrokke geraak by die konsep van die video. Liebenberg en ʼn vriend, Nathan Fourie, het saam aan die video gewerk. Johannes Pieter Nel het die video geskiet.

“Ons wou met die swart-en-wit-konsep die eensaamheid uitbeeld. Ek dink die video pas visueel baie goed by die liedjie,” sê hy.

Liebenberg vertolk tans die rol van ʼn reeksmoordenaar in die tweede seisoen van die kykNET-dramareeks Die Byl. Hy was te sien op die grootskerm in flieks soos Kanarie en Ander Mens. Hy verklap dat hy ook in ʼn reeks getiteld Bewolkte Harte speel, wat later vanjaar op die kassie sal verskyn.

Hy is nou deel van die groep wat die Afrikaanse musieklegende, Johannes Kerkorrel, se satiriese album Eet Kreef! herinterpreteer met ʼn eietydse opname van die album. Eet Kreef Herleef! sluit bekende snitte soos “Sit dit af”, “Hillbrow”, “Energie” en “Hoe ek voel” in.

Sowat 30 jaar gelede het Kerkorrel en sy orkes, Die Gereformeerde Blues Band, se Eet Kreef!-album opslae gemaak toe die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) dit van radiospeellyste verban het.

Laudo Liebenberg en Frank Freeman. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Liebenberg vorm saam met die musikante Frank Freeman, Sheldon Yoko, Etienne van Rooyen en Schalk van der Merwe deel van dié projek.

Freeman, kitaarspeler vir die musikant Arno Carstens, vertel hy wou ʼn Afrikaanse musiekteaterproduksie in Afrikaans bymekaarsit en het begin delf in ouer Afrikaanse alternatiewe musiek.

“Ek en Arno was op ʼn vlug van Kaapstad af na Pretoria en hy sê toe hy dink dit sal ʼn goeie idee wees as ons die Eet Kreef!-album gebruik. Daar het die lig in my kop aangegaan. Ek het eers vir Laudo genader en daarna het ek die res van die groep bymekaargesit.”

Freeman en Van Rooyen is verantwoordelik vir die oorspronklike verwerking van die musiek. Die groep het ook vroeër vanjaar ʼn Fiësta-toekenning vir beste musiekgedrewe produksie op die podium verower.

“Ons was in ʼn kategorie saam met Amanda Strydom, so ek het regtig nie gedink dat ons die toekenning huis toe sou vat nie. Ons is baie trots en bly oor mense se reaksie op die produksie,” sê Liebenberg.

“Wanneer jy so iets aanpak, trap jy ʼn bietjie op heilige grond. Dit was vir ons belangrik om dit reg te doen. Nadat ons die opname van die album gemaak het, het ons dit vir die oorlewende lede van die Gereformeerde Blues Band aangestuur. Hulle het vir ons ʼn baie hartlike boodskap gestuur oor die projek, wat baie lekker is,” voeg Freeman by.

Op 27 Maart bied die groep ʼn spesiale vertoning van Eet Kreef Herleef! by die Atterbury-teater in Pretoria aan. “Dit sou Kerkorrel se 60ste verjaarsdag wees. Die datum was aanvanklik nie so beplan nie, maar dit gaan baie spesiaal wees. Ons gesels nie veel tussendeur nie en fokus eerder net op die musiek.”

Liebenberg sê dit is ʼn eer om die vertoning te kan lewer. “Ons het nie die liedjies geskryf nie, so ons kan net die musiek die praatwerk laat doen. Ek sê altyd ons voel half deel van die gehoor, want ons is net die spreekbuis vir die album wat ʼn ongelooflike stuk werk is.”

Hy voeg by dat dit van die begin af vir die groep belangrik was dat die album ʼn verwerking moet wees en nie ʼn huldeblyk nie. “Ek probeer dus glad nie Kerkorrel se skoene vol staan nie. Ek kan nie soos hy klink nie en dit sal aangeplak wees as ek probeer. Ek interpreteer dit op my eie manier en in my eie styl.”

Hy vertel Amanda Strydom, wat groot vriende met Johannes Kerkorrel, oftewel Ralph Rabie, was voor sy dood in 2002, het vir hom gesê Kerkorrel sou trots wees op dié produksie. “Dit is ʼn ongelooflike eer en ek is bly mense geniet my weergawe.”

Kaartjies vir die vertoning in die Atterbury-teater kos R220 en is beskikbaar deur iTickets.

Eet Kreef Herleef! is op 15 Maart by die US Woordfees op Stellenbosch in die Spier-amfiteater te sien. Kaartjies kos tussen R120 en R200 deur Computicket en R220 by die deur. Die produksie sal ook op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien wees.

  • Laudo Liebenberg en Frank Freeman het in die Maroela Media-ateljee met Leonie Bezuidenhout gesels. Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.