Elvis Blue hou ‘Kwarantyn-konsert’ op Facebook

Elvis Blue het Dinsdag aangekondig dat hy ʼn virtuele “Kwarantyn-konsert” op Facebook gaan hou te midde van die koronavirus wat Suid-Afrikaners in hul huise hou.

Aangesien mense nie meer na vertonings kan gaan nie, het Elvis dit goedgedink om ʼn regstreekse video op Facebook-live beskikbaar te stel sodat mense sy vertoning kan bywoon waar hulle ook al is.

“Ek sou die volgende twee maande so baie vertonings gehad het, wat nou gekanselleer is. Maar ek wil dit graag steeds doen; ek wil nog steeds die mense sien!” sê Elvis aan Maroela Media.

“Dis nou jammer ek kan nie geld maak daaruit nie, maar dit is nie die enigste rede hoekom ek dit doen nie. Die mense het kaartjies gekoop; so ek wil graag vir hulle en enigiemand anders ʼn vertoning gee.”

Elvis Blue (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Elvis sê daar is ʼn moontlikheid dat Adam Tas ook deel van die vertoning gaan word, en dat hulle dit by Elvis se koffiewinkel, Elvis Brew Co in Mosselbaai, gaan opneem. ʼn Klank- en videospan sal sorg dat dit ʼn regstreekse uitsending van goeie gehalte is.

“Ek dink dit is baie spesiaal! Dit skep weer ʼn ander dinamika as ʼn gewone vertoning, want mense kan kommentaar lewer en versoeke van liedjies instuur via Facebook-live. Ek sien baie uit daarna; ek dink dit gaan great wees,” sê hy.

Die vertoning is gratis vir enigeen wat toegang tot Facebook het en vind op Vrydag 27 Maart om 19:00 plaas.

Elvis moedig mense aan om sy Facebook-blad dop te hou en om die Kwarantyn-konsertgeleentheid op Facebook te volg sodat jy nie van die vertoning vergeet nie. Al wat jy hoef te doen is om in te teken met jou gewone Facebook-profiel, en jy kan die vertoning gratis op Elvis Blue se Facebook-blad kyk.

“Ek is jammer dat die vertonings gekanselleer is, maar as jy steeds ʼn show wil sien, hou ek graag een nét daar waar jy ook al is,” sê Elvis.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ellie ·

Ag lekker man! Sal gaaf wees as al die ander kunstenaars dit ook kan doen! (vir die mense wat nie sulke shows kan bywoon nie, soos ek)
Gaan hom definitief kyk op Facebook.
Dankie Elvis! :)

Gawie ·

Dankie Elvis!
So maak die boere planne ten spyte van die slegte nuus!!

Pandora ·

Presies waaraan ek gister gedink het – hierdie is die era van moderne tegnologie.
Dankie Elvis vir jou groothartigheid. Vir die toekoms, kan die kunstenaars dalk ‘n aanlyn stroom vertoning hou – jy betaal om die vertoning aanlyn te sien, en sodra jou bedrag deur die musikant se agent goedgekeur is, stuur hulle vir jou ‘n wagwoord waarmee jy kan aansluit by die aanlyn vertoning. So kan die kunstenaars steeds geld maak, en elke persoon wat graag die vertonings wil sien kan so maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.