FAK Jeugsimfonieorkes se eerste konsert op die horison

FAK Jeugsimfonieorkes

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se bekendstelling van ’n jeugsimfonieorkes einde 2022 is met groot opgewondenheid van die publiek ontvang.

Op 24 Maart 2023 gaan dié jong musikante die publiek vermaak tydens hul bekendstellingskonsert wat by die Voortrekkermonument in die Senotaafsaal gaan plaasvind.

“Die konsert is ’n belangrike vertrekpunt vir die orkes,” sê Jaco van Staden, dirigent van die FAK Jeugsimfonieorkes en projekbestuurder van die FAK se musiekprojekte. “Optreegeleenthede is altyd voordelig aangesien daar kans is om uit te voer wat beoefen word. Die konsert is ’n bevestiging dat die FAK Jeugsimfonieorkes wil streef om sy plek in te neem as ’n volwaardige jeugorkes vir die gemeenskap.”

Gehore kan uitsien na verskeie orkeswerke van Ludwig van Beethoven, Edvard Grieg, Antonin Dvoràk en Anatoly Lyadov.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor hierdie konsert en dit wat die toekoms vir ons inhou,” voeg Lieandri Ackermann, orkesbestuurder, by. “Die FAK streef na uitnemendheid, terwyl ons diep in ons geskiedenis en kultuur gewortel is. Hierdie orkes pas so mooi daarby in, want die kinders speel nie net moderne musiek nie, maar meer uitdagende stukke, waaroor hulle ook baie opgewonde is.”

Sy verduidelik dat die program en opleiding wat die kinders in die orkes ontvang, van hoë gehalte is en dat die fynere detail van optree ook aan die orkeslede oorgedra word.

“Hulle leer hoe om saam met ander musikante te kan saamwerk en bied musikante die broodnodige blootstelling wat so skaars is in Suid-Afrika,” sê Ackermann.

Van Staden brei hieroor uit en sê: “Dit is ’n baie uitdagende repertorium, maar tog versigtig gekies vir die jeugorkes en die orkestrasie gee ruimte vir vaardighede wat ontwikkel kan word om die musiek spontaan te vertolk. Die verskeie vaardighede verwys na verskeie klankkleure uit die orkes se verskeidenheid instrumente en orkestegnieke wat nie altyd in solo repertorium voorkom nie, wat die luistervaardighede en algemene begrip van orkes en ensemblespel bevorder.”

Die konsert begin 24 Maart om 18:00. Ervaar die mooiste musiek en die beste talent wat Suid-Afrika bied. Klik hier om jou kaartjie aanlyn te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.