Feestelike vermaak wag op jongspan by Aardklop

ʼn Volronde aanbod vir die hele gesin wag vanjaar by die Momentum Beleggings Aardklop, met ʼn goeie skeut kindervermaak wat op die planke gebring word.

Tippie, Suid-Afrika se gunsteling-olifantjie wat die kleinspan speel-speel leer lees, maak vanjaar haar debuut op die kunstefees in Potchefstroom.

Jakkie Louw se Felias en Pokkel, asook die immergewilde Babalela en die opvoedkundige Fliep-flappers verskaf ook vanjaar ure se genot op die feesterrein vir jonk (en oud!).

Tippie (Debuut)

Tippie. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se gunsteling-olifantjie kom kuier uiteindelik op die verhoog by Aardklop. Tippie gaan sorg vir hope vermaak wat die kindermaatjies se tone sommer sal laat krul van die lekkerkry. Saam leer ons meer oor emosies en omgee vir ons maats.

Tippie bied vir ons ’n pragreeks boeke, waar ons natuurlik ook speel-speel leer lees. Hierdie vrolik geïllustreerde leesreeks stel die beginnerleser ook aan klanke en wiskunde bekend.

Elke boek bevat ’n kort, prettige storie wat help om kinders se leesvaardighede te ontwikkel, asook aktiwiteite wat die ouer, terapeut en onderwyser in staat stel om begrip en woordeskat speel-speel by die kind vas te lê.

Die produksie duur 45 minute en is by Girls High te sien.

Datums en tye: 3 Oktober 11:30, 4 Oktober 13:00, 6 Oktober 11:00. Kaartjies kos R100.

Felias en Pokkel

Jakkie Louw en die poppe van Felias en Pokkel. (Foto: Verskaf)

Felias en Pokkel is Jakkie Louw se poppekaskonsert. Dit is eintlik ’n “one man and eight puppets”-konsert. Die storie handel oor twee veldmuise in boer Jakkie se huis.

Jakkie het die storie uitgedink en al die musiek geskryf, met liedjies soos “Die dae van die week” en “Moenie bang vir die kat wees nie”. Jakkie doen die twee muise se stemme self.

Hy het egter van sy bekende vriende gekry om die ander karakters te doen. Stemme deur Lizz Meiring (Patat die Kat, Skaai die Kraai, Tienie die TV-vlieg), Hannes Brümmer (Vrottie Kokkerottie, Chris die Verkleurmannetjie en Laventel die Plaashaan) en Richard van der Westhuizen (Eeeejonkie Donkie en die Tandemuis).

’n Snaakse, oorspronklike produksie wat gaan sorg vir baie komedie en opwinding, én dit is beslis lekker vir die ouers ook. Jaco Jacobs het die drie boeke geskryf wat te koop sal wees ná die konsert.

Die produksie duur 45 minute en is by Girls High te sien.

Datums en tye: 4 Oktober 09:00, 5 Oktober 11:00, 6 Oktober 13:00. Kaartjies kos R100.

Babalela

Babalela. (Foto: Verskaf)

Die eerste gedagte wat by ’n mens opkom wanneer jy Babalela vir die eerste keer ontmoet, is pure pret en hope plesier.

In die nuutste Babalela-avontuur skrik die Babalela hom yskoud toe daar op ʼn dag ʼn nare gerammel in die bos is. Hy kan nie glo wat hy sien nie. Aan die rand van die bos dreun en grom ʼn reuse-stootskraper. Soos ʼn kwaai bul loop die stootskraper ʼn klomp bome storm. Die bome knak, vou en val. Oral lê daar bome en bosse rond wat die stootskraper omgeruk het.

As die Babalela en sy maats nie vinnig ’n plan maak nie, gaan daar niks van hul geliefde bos oorbly nie.

Die produksie duur 45 minute en is by Girls High te sien.

Datums en tye: 4 Oktober 11:00, 5 Oktober 09:00. Kaartjies kos R100.

Fliep-flappers

’n Opvoedkundige en vermaaklike kindertoneelstuk uit die debuut-kinderboek, Storiekasteel, van Liena van der Merwe, gepubliseer deur Naledi Uitgewers.

Fliep-flappers is haar sewende kindertoneelproduksie en sy het al meer as 25 kunstefeesproduksies oor die jare aangebied. Dié jongste produksie is ook die inspirasie vir ’n reeks nuwe kinderdramas, waarvan Fliep-flappers die eerste is. Dit is onlangs met groot sukses by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgevoer.

Dis ’n pragtige verhaal wat maatjies inspireer met temas van ’n gesonde leefstyl, vergifnis en hoe om boeliegedrag te hanteer. Daar is musiek, dans en interaktiewe spel wat die kinders betower en ook ’n liefde vir teater leer.

Die produksie duur 40 minute en is by Girls High te sien.

Datums en tye: 3 Oktober 13:00; 5 Oktober 13:00; 6 Oktober 09:00. Kaartjies kos R80.

Die Momentum Beleggings Aardklop vind van 3 tot 8 Oktober in Potchefstroom, Noordwes, plaas. Kaartjies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.