
‘n Lugfoto van die skare. (Foto: Lumico)
Die “In Afrikaans”-konsertreeks, wat gedurende die vakansietydperk op Hartenbos in die Wes-Kaap plaasgevind het, se galageleentheid op 30 Desember het ʼn skare van 12 000 mense getrek.
Vir die eerste keer ooit was kaartjies vir die geleentheid by die Hartenbos-amfiteater op dié gewilde kusdorp uitverkoop. Bekende Afrikaanse kunstenaars soos Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Karen Zoid, Jo Black, Appel, Elvis Blue, Refentse, Lianie May, Dewald Wasserfall, Leah, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld en Fatman het dié gehoor gaande gehad met hul treffers.
Die “In Afrikaans”-konsertreeks het vakansiegangers bederf met topgehalte aanbiedings en nie een produksie is oorgesien nie.
Die immergewilde rock-sangeres Karen Zoid was veral opgewonde oor haar eerste optrede saam met Refentse, wat volgens Zoid “’n uiters ervare sanger” is. “Ek is mal oor sy stem en sy selfvertroue,” het Zoid bygevoeg.

(Foto: Lumico)
Volgens Die brug-sanger Elvis Blue was dit die soort konsert waarvan jy as kind droom. “Hartenbos is ʼn lieflike plek en boonop is daar 12 000 mense wat jou aanmoedig!”
Diegene wat van die konserte bygewoon het, kan steeds nie uitgepraat raak oor die ongelooflike dinamika van ons land se topkunstenaars saam op een verhoog nie.
ʼn Bekende besoeker aan dié konsert, Zelda le Grange, het gesê sy kon die passie van die konsertgangers sien. “Dis Hartenbos, die Kaap en Afrikaans op sy beste!”
Volgens Jacomien de Villiers, organiseerder van die fees, wou hulle graag die tradisie van die ATKV en die jaarlikse Kerskonserte behou, maar het dit ʼn nuwe kinkel gegee. “Ons wou iets unieks doen en graag hê dat die liedjies mense se harte in die oomblik moet vasgryp,” het sy bygevoeg.
- Dewald Wasserfall. (Foto: Lumico)
- Elvis Blue. (Foto: Lumico)
- Jo Black. (Foto: Lumico)
- Karen Zoid, Bok van Blerk en Robbie Wessels. (Foto: Lumico)
- Karlien van Jaarsveld. (Foto: Lumico)
- Leah. (Foto: Lumico)
- Riana Nel. (Foto: Lumico)
- Snotkop. (Foto: Lumico)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Dit was n groot konsert. Maar te groot vir n kleindorpie soos Hartenbos en die organiseerders. Ons was reeds teen 5 uur deur die ingang, waarna ons ure lank in rye moes staan vir iets om te drink en te eet. Dus het meeste van die skare vanuit die talle rye gestaan of iets van die konsert te probeer sien. Dit was glad nie plesierig.