Foto’s: Musiek en fietsry in Grootvadersbosch

Jacques Marais verken die enkelspoorroetes van die Grootvadersbosch op sy ysterperd. (Foto: Jacques Marais)

Grootvadersbosch is los-los die beste woud wes van Knysna se groot boom, vertel Jacques Marais. Hy het onlangs lekker daar gekuier tydens die jaarlikse Silver Mountain-musiekfees en natuurlik het hy oudergewoonte ook sy fiets saamgevat.

Die bestemming

Hier is die ding: wanneer die meeste mense met die N2-deurpad langs verby Swellendam suiker, verkyk hulle hulself so aan die kanola en koring se geel-en-groen lappieskombers wat tot teen die Langeberge strek, dat hulle nie eers die Suurbraak-afdraai raaksien nie. Dit is ʼn groot jammerte.

Die Overberg se landerye is nou wel netjies, maar daar is ʼn sprokieswêreld wat op jou wag daar waar daardie ruwe pieke teen die horison-wolkekrabber staan. Doen jouself dus ʼn guns en draai volgende keer noordwaarts af en mik die binneland in. Indien jy jou kuiertjie vir die winter beplan, wag daar ʼn ware fees op jou. Ja, dit is gewoonlik hierdie tyd van die jaar wanneer die mense van die Grootvadersbosch-natuurreservaat saamtrek om die Silver Mountain-musiekfees aan te bied.

Van Suid-Afrika se beste klassieke musikante tree hier op, met tenore wat in wynkelders en skure noot vang, violiste en klavierspelers wat in die groene woude optree en met die koorsang wat weerklink tot doer diep in die klowe.

Hierdie pragtige piek bokant Grootvadersbosch is waar die Silver Mountain’-musiekfees se naam vandaan kom. (Foto: Jacques Marais)

Gaan blok sommer nou al 15 tot 18 Junie uit op jou kalender vir volgende jaar se fees. Dit is vet pret vir almal, maak nie saak of jy op soek is na avontuur, kultuur of bier nie.

Besoek www.silvermountainmusic.co.za vir meer inligting.

Karyn Marais – die skrywer se vrou – trap saam op die Grootvadersbosch-bergfietsroetes. (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Ja, daar gaan genoeg musiek, kuns en kos by die Silver Mountain-musiekfees wees om liggaam en siel te voed, maar wat van jou kuitspiere? Diegene wat ʼn bietjie meer buitelug-oefening soek as ʼn Rieldanssessie of twee, moet seker maak dat hulle ysterperde saam kom.

Daar is ʼn uitgebreide netwerk van bergfietsroetes wat guitig gat swaai midde-in die natuurskoon en diversiteit waarvoor hierdie deel van die Overberg alom bekend is. Met meer as ʼn honderd kilometers se pasgemaakte enkelspoor, kan jy verseker weet dat jou tong tot op jou bors gaan hang, ou maat.

Hierdie is nie sommer hierjy roetes nie, so wees reg vir houtbruggies, rivierkruisings, draaie, gat-oor-kop afdraandes, en natuurlik ʼn handjievol kuitkramper-klimmers hier in die Langeberge se voetheuwels. In my opinie, bly hierdie netwerk van roetes een van Suid-Afrika se top tien, so maak gerus seker jy kom geniet Grootvadersbosch se pedaal-paradys.

Al die roetes kan by www.gvbconservancy.co.za afgelaai word.

Riviersonderend se rieldansers skop so bietjie stof op! (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.