Foto’s: Ouetehuis se pret met albumomslae

Inwoners van ‘n ouetehuis in Engeland het bekende albumomslae nagemaak om die afsonderingstydperk te verwyl. (Foto: Twitter/Robert Speker)

Inwoners en versorgers van ʼn ouetehuis in die noorde van Londen het hul verveling tydens die afsonderingstydperk hokgeslaan deur ikoniese albumomslae te herskep.

Die Symar Lodge-tehuis in Edgware is reeds op 12 Maart gesluit vir besoekers en die personeel organiseer sedertdien verskillende aktiwiteite om die inwoners te vermaak.

Bekende omslae van kunstenaars soos Adele, Taylor Swift, Queen en David Bowie is prettig nagemaak met behulp van Robert Speker, wat met die idee vorendag gekom het.

Volgens Speker, aktiwiteitskoördineerder by die tehuis, is die bejaardes gaande oor die skeppings.

“Ons probeer heeltyd met nuwe aktiwiteite vorendag kom om die tyd te verwyl. Dié idee het sowat ʼn maand gelede by my opgekom. Ek het die foto’s begin neem en inwoners gekies wat vaagweg ʼn ooreenkoms met die kunstenaar toon en van daar af verder gegaan,” het Speker aan die BBC gesê.

Inwoners van ‘n ouetehuis in Engeland het bekende albumomslae nagemaak om die afsonderingstydperk te verwyl. (Foto: Twitter/Robert Speker)

Op een van dié omslae verskyn die 93-jarige Sheila, wat die sanger Ragʼn’Bone Man se albumomslag vir Human herskep het. Sy het dié sanger verlede jaar tydens ʼn konsert ontmoet.

“Hy het my met ʼn pistool oortuig om deel te neem aan die projek,” het Sheila geskerts.

“Die hoofdoel was om te wys dat ouetehuise nie ʼn hartseer omgewing hoef te wees nie, selfs tydens die pandemie,” het Speker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Dankie vir die positiewe en vrolike berig. Moet nooit ouer mense se uithouvermoë, sin vir humor en kreatiwiteit onderskat nie.

Sarah ·

Absoluut n brilliant idee! Die covers is so oulik gedoen. Kan sien die ouderlinge is nogsteeds n bok vir sports!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.