Francois van Coke maak nou sy eie klein rebelle groot

Francois van Coke. (Foto: verskaf)

Francois van Coke, die Afrikaanse rockster wat volksbesit geword het, is die verhoogrebel wat nou al te trots is op sy gesin wat hy nooit gedink het hy sou hê nie.

Van Coke (41) het deur die jare heen sy wortels diep in Suid-Afrikaners se harte geplant en spog eersdaags met ’n splinternuwe album Kanniedood, ’n ode aan deursettingsvermoë.

Dié het hy begin skryf in Februarie 2021 en hy beskryf dit as sy “eksistensiële krisis,” en ’n ontmoeting met sterflikheid.

Die pandemie en inperkings het beduidende invloed op die album gehad, hoewel dit vir hom vervelig is om dit te erken, aangesien daar al soveel inhoud uit dié tydperk gevloei het. Die album het ook vir hom toevlug gebied wanneer die harde werklikheid van dié tyd aan die deur kom klop het.

“Ek het vriende en familie in daardie tyd verloor. Sterflikheid het vir my tasbaar geword.”

Van Coke, die pa van ’n vyfjarige dogtertjie en ʼn eenjarige seuntjie, erken dat hoewel dit vir hom soos ’n vars asemteug is om terug op die verhoog te wees, verlang hy nou na die gesinstyd wat hy tydens die inperkings gehad het.

(Foto: verskaf)

“Kinders verander ʼn mens se uitkyk op die lewe. Ek hou van musiek speel, maar ek hou nie daarvan om van die huis af weg te wees nie. Om kinders te kry is die grootste verandering wat in jou lewe kan gebeur.”

Hy vertel skertsend dat hy soveel aande deurnag gekuier het, en dat dit hom dalk voorberei het op die slapeloosheid wat dikwels met die beginstadiums van ouerskap gepaard gaan.

“Ek weet nie of enigiets ʼn mens werklik kan voorberei op kinders nie. Jy het ’n idee van wat gaan kom, maar jy weet nooit eintlik wat gaan gebeur nie.”

Van Coke erken dat hy pa-word lank uitgestel het, die idee van ’n normale gesinslewe het hom skrik op die lyf gejaag.

Hy vertel dat hy selfs in sy jonger jare nie ’n motor gehad het nie, aangesien hy dit beskou het as iets wat hom sou vaspen.

“Ek en my vrou was 13 jaar saam voordat ons getrou het. Ek het weggeskram van al daardie goed.”

Van Coke, wat vir die eerste keer op 36 pa geword het, sal sy gesin egter nou vir niks verruil nie.

“Ek is bly dat ek so lank gewag het om ouerskap aan te pak, ek sou nie in my 20’s gereed gewees het daarvoor nie.”

Hoewel hy nou trots is daarop om homself ’n gesinsman te noem, is sy rebelgees ongetwyfeld nog deel van wie hy is. Hy vertel egter skertsend dat daardie einste rebelgees nou duidelik in sy vyfjarige dogtertjie teenwoordig is.

“Een dag is jy die gesagsfiguur en die volgende is jy ’n rebel, dit hang net af van waar jy is.”

Hy het nooit verwag dat die rockgroep Fokofpolisiekar, wat vanjaar 19 jaar oud is, so lank sou hou of tot so ’n mate in die Afrikaanse musiekbedryf sou groei soos wat dit het nie.

Van Coke vertel dat hy ’n ruk gelede ’n ou televisieonderhoud van hom opgespoor het, die eerste een wat hy gedoen het. Hy vertel dat hy nie net kon sien hoe skaam hy eens was nie, maar ook hoe hy in daardie onderhoud gesê het dat ’n groep nie vir altyd sal kan aanhou speel nie.

Daardie aanvanklike verwagting is egter oortref en vandag is die res van groep vir hom soos familie.

“Ek het nie met broers grootgeword nie. Daardie ouens is my broers.”

In die beginjare van dié gewilde musiekgroep was daar mense uit twee uiteenlopende pole met twee uiteenlopende menings oor die musiek wat hulle gemaak het.

“Daar was mense wat gek daaroor was en dan was daar mense wat dit gehaat het. Deur die jare het Fokofpolisiekar kontemporêr geword. Daar het erger dinge gebeur, wilder dinge,” het hy laggend vertel terwyl hy na musiekgroepe verwys het wat meer kontroversiële musiek as hulle gemaak het.

Die groep se musiek word egter nou regstreeks van tieners tot mense wat in hul 40’s en 50’s is herken en waardeer, iets wat Van Coke steeds verbaas.

“Daar is mense van my ouderdom en van hulle kinders is al 18. Ek het nou die dag by ’n 16de verjaardagpartytjie gespeel en ek speel volgende week by ’n 40ste. Dis mal dat die goed wat ons deur die jare gedoen het so lank hou.”

Hy vertel dat hy in sy jonger dae nie vir homself ’n toekoms gesien het nie, hoewel hy vandag vasklou aan die mense en ervarings wat hy mee omring word.

“Toe ek jonger was, het ek gehoop ek gaan vroeër dood, nou het ek rede om langer te lewe.”

Hy erken dat sy jonger self bly sou wees oor waar hy vandag is, maar ook dat sy jonger self hom waarskynlik sou irriteer indien hy hom sou ontmoet.

Dit trek hy deur na die titel van sy volgende album, Kanniedood, wat in September vanjaar uitgereik word.

“Dit gaan nie net oor deursettingsvermoë nie. Ek wil en kan nie nou doodgaan nie.”

Sy musiek is dikwels vir hom ’n emosionele uitlaatklep, wanneer mense aanklank daarby vind, is dit natuurlik, aangesien hy nie skryf om ’n sekere boodskap te versprei nie.

Francois van Coke en Elandré tydens die verfilming van “Maak Wakker” se musiekvideo. (Foto: verskaf)

Van Coke het onlangs ’n enkelsnit “Maak wakker” saam met Elandré uitgereik, en hy gesels maklik oor hoe aangenaam dié ervaring vir hom was.

“Ek het nog altyd gedink dat hy cool is. Ek het die liedjie klaar geskryf en dit vir hom gestuur om te hoor of hy dalk die tweede vers wil skryf. Hy het byna onmiddellik daartoe ingestem.”

Hy is ook opgewonde oor die terugkeer van sy gewilde massavertoning, Francois van Coke en vriende, wat vanjaar vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie terugkeer. Dié gebeur op Sondag 25 September by die SunBet Arena, Time Square, in Pretoria en gaan propvol nuwe kunstenaars en musiek wees.

Spoegwolf, Elandré, Early B, Tasché, Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties, Laudo Liebenberg, Jack Parow, Can Pletzen en Hunter Kennedy sal almal tydens dié reusevertoning op die verhoog te siene wees.

“2018 en 2019 se arena-vertonings was die beste twee vertonings van my lewe. Dit is anders as om ’n fees te speel omdat die mense wat na Francois van Coke en vriende kom kyk, daar is om spesifiek na jou musiek te luister, wat dit nogal spesiaal maak.”

Kyk die musiekvideo van “Maak Wakker” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Nou lekker gelag oor die foto van hom en Elandre wat soos “nerds” lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.