Franja du Plessis wil hoop, liefde met nuwe album deel

Franja du Plessis (Foto: verskaf)

Hoewel Franja du Plessis met een voet in die vermaakbedryf en met rolmodelle soos haar ma, Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr en Theuns Jordaan grootgeword het, bieg sy dat sy steeds aan’t bewe gaan voordat sy die verhoog aandurf.

Dié 28-jarige sangeres stel Vrydag haar splinternuwe album, Los jou hart, bekend.

“Dit is vir my belangrik dat my musiek iets vir mense beteken. Of dit nou is deur iemand in ’n goeie bui te sit en hulle te laat dans, of deur ’n diep liedjie wat werklik iets vir hulle beteken,” het Du Plessis aan Maroela Media gesê.

Die nederige, dog talentvolle, sangeres se familie en vriende speel ’n reuserol in haar lewe, iets wat deur haar musiek ten toon gestel word.

“Daar is ’n liedjie in die album met die naam “Gee die beker op”, wat ek uit die diepte van my hart vir my geliefdes geskryf het.”

Dié betekenisvolle lied hou verband met Jesus se gebed in Mattheus: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

“As hulle seer het, wens jy dat jy daardie seer namens hulle kan ervaar. Jy wens dat jy daardie seer van hul skouers kan afhaal,” het sy verduidelik.

Sy vertel dat sy dikwels liedjies oor liefde skryf.

“Dit gaan maar oor ervarings wat ek en die mense rondom my gehad het.”

Daar is steeds dele van haar werk wat haar stomgeslaan laat.

“Om op die verhoog te wees laat die adrenalien vloei. Ek stres nog steeds voor elke vertoning. Ek was baie skaam, dit het darem nou al beter geword. Dis beslis nie ’n gevoel waaraan mens gewoond raak nie, maar hulle sê dis goed om ʼn bietjie bang te wees. As jy nie bang is nie, is daar dalk iets fout.”

Die sangeres is in Namibië gebore, hoewel sy en haar gesin vroeg in haar lewe na Suid-Afrika verhuis het.

“Dit was vir my baie vreemd om te sien hoe mense my ma hier so herken. Ek spot altyd en sê ek is dalk in Namibië gebore, maar ek is eintlik ’n Suid-Afrikaner.”

Du Plessis erken egter dat die Namibiese bloed nog sterk deur haar are vloei en dat die gesin gereeld na haar geboorteland terugkeer.

Die rol wat haar ma in die Afrikaanse musiekbedryf speel, het ongetwyfeld ’n invloed op Du Plessis en haar musiek gehad.

“Omdat ek grootgeword het in die bedryf, was ek heeltyd omring met musiek. Dit het ’n liefde vir musiek gekweek. Ek het op skool begin kitaar speel, dit was vir my lekker om nuwe goed op die instrument te ontdek. Musiek was nog altyd daar, ek het my eerste liedjie op hoërskool geskryf.”

Du Plessis sien haar ma en talle ander Afrikaanse sangers as rolmodelle.

“Sy het soveel ervaring en sy het so ’n indrukwekkende loopbaan.”

Sy verklap dat sy steeds na Kurt Darren en Steve Hofmeyr as “Oom Kurt” en “Oom Steve” verwys.

Sy het die musiekbedryf deur die jare met ’n valkoog dopgehou en gesien hoe sekere genres op sekere tye meer aandag as ander geniet het.

Oor haar musiek vertel sy dat dit nog altyd vir haar belangrik was om getrou aan haarself te bly.

“Elkeen het ’n unieke klank, jou persoonlikheid en klank kom uit wanneer jy skryf.”

Haar voete is ferm in geloof geplant en dis vir haar uiters belangrik om deur haar musiek die Here te prys.

“Die Here het my geseën met talent en ’n passie vir musiek. Ek wil gebruik wat Hy vir my gegee het om te gebruik. Ek wil sy lig en liefde uitstraal.”

  • Du Plessis se nuwe album, Los jou hart, is van Vrydag 20 Mei op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk na die splinternuwe musiekvideo van haar enkelsnit, Gee my ‘n Boerseun, hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.