‘Geloof eerste, musiek tweede’, sê Amira Willighagen

Amira Willighagen. (Foto: Amira Willighagen/Instagram)

Toe Amira Willighagen die talentsoekkompetisie Holland’s Got Talent in 2013 as negejarige gewen het, het sy nie besef wat vir haar voorlê nie. Wat sy egter toe al geweet het, is dat dit ʼn Godgegewe talent is wat sy ontvang het.

Amira onthou die dag toe sy die eerste keer vir haar ma gesing het nog goed.

Sy was maar sewe jaar oud, en was geïnspireer deur haar boetie wat viool kon speel, haar ma behendig met die fluit en viool, en haar pa wat die trekklavier, klavier en orrel kon bespeel. Sy onthou hoe hulle altyd saam musiek gemaak het, en dat sy vandat sy kan onthou gewens het dat sy saam met hulle kon speel.

Haar boetie, wat sy as “geniaal” beskryf, het Italiaanse liedjies vir haar foneties neergeskryf. Sy het die liedjies oor en oor deurgeluister, en dit sonder enige amptelike musiek- of stemopleiding leer sing.

Sy het een dag op haar ma se skoot gesit, en vir haar Andrew Lloyd Webber se “Pie Jesu” gesing – iets wat sy vandag steeds as ʼn “spirituele oomblik” tussen hulle beskryf.

“My ma was geskok. Sy het iets vreemds gesê: Dat wanneer ek nege word, die wêreld aan my voete sal lê. Ek het toe nie veel van geloof geweet nie, maar ek het geweet dat ek ʼn geskenk van die Here ontvang het.”

Dié geskenk deel sy vandag graag, en neem die verantwoordelikheid daarvan ernstig op en sy wil soveel moontlik mense se lewens aanraak.

Sy erken maklik dat sy nie haar lewe as jong sangeres sonder haar geloof sou kon aanpak nie.

“Geloof is baie belangrik. Jy kan maklik ingesluk word deur die wêreldse dinge as kunstenaar. Daar gaan altyd mense wees wat kommentaar gaan lewer, maar as jy jouself gaan toelaat om betrokke te raak, kan jy jou geloof skade berokken.

“Daarom is geloof my eerste prioriteit en musiek my tweede.”

Tuis in SA

Amira (19) woon al sedert 2018 in Suid-Afrika saam met haar ma, Frieda, en broer, Fincent (21). Hoewel dit as ʼn tweede tuiste vir dié Nederlandse sangeres gesien kan word, het sy van jongs af eintlik veel meer tuis op die Suid-Afrikaanse bodem gevoel.

“Nederland was vir my baie lekker, maar ek het nog altyd meer tuis in Suid-Afrika gevoel,” vertel Amira aan Maroela Media. Dit was veral lekkernye soos Jelly Tots, biltong, droëwors en Cream Soda wat haar soos ʼn regte Suid-Afrikaner laat voel het. Dit was dus nie vir haar ʼn reuse-uitdaging om die Nederlandse groenigheid vir ʼn Suid-Afrikaanse landskap te verruil nie.

Sedert sy en haar gesin verhuis het, het sy talle kere na Nederland teruggekeer vir opvoerings en om by haar pa, wat daar agtergebly het nadat haar ouers geskei is, te kuier.

ʼn Hart vir mense

Dit was ná een van haar vele kuiers in Suid-Afrika dat sy besef het die speelterreine wat so algemeen in Nederland is, is nie bekend aan alle Suid-Afrikaanse kinders nie.

Nog voordat sy Holland’s Got Talent gewen het, het sy begin droom daarvan om speelparkies in Suid-Afrika te open. Sy erken dat sy toe nie ʼn benul oor geld gehad het nie, maar dat sy haar droom ná haar oorwinning met mense begin deel het.

Sy het die Gelukskinders Stigting in 2014 begin, en kon toe reeds haar eerste speelparkie in Ikageng, net buite Potchefstroom, opgerig. Dié stigting kon sedertdien meer as 20 speelparkies op die been bring.

Amira tydens die opening van die eerste Gelukskinders-parkie. (Foto: Amira Willighagen/Instagram)

Amira het in 2022 aan Potchefstroom Gimnasium matrikuleer, en hoewel sy aanvanklik gesukkel het om die taalbrug tussen Nederlands en Afrikaans oor te steek, het sy uiteindelik ʼn onderskeiding in Afrikaans in haar eindeksamen ontvang.

Sy onthou die senutergende tydperk waardeur sy is net voor haar matriekjaar geëindig het. “Ek het dit amper nie gemaak nie, want jy het jou ID nodig om te matrikuleer. Ons het vier jaar lank gewag om my dubbele nasionaliteit te finaliseer, dit was ʼn verskriklike ingewikkelde proses.”

Een voet in die skool, en een op die verhoog

Amira is vandag dankbaar dat haar ouers haar met ʼn mate van normaliteit grootgemaak het, hoewel haar kinderlewe allermins normaal was.

Terwyl sy haar liefde vir musiek kon nastreef, het haar liefde vir akademie ook gegroei. Sy het gereeld uitnodigings ontvang om in verskillende lande op te tree, maar dit was altyd haar keuse of sy dit wou doen, en of sy eerder ʼn vriendin se verjaardagpartytjie wou bywoon.

“Voor Holland’s Got Talent het ek nog nooit voor ʼn werklike gehoor gesing nie, behalwe as jy my ouma tel. Ons het nie verwag wat daardie jaar gebeur het nie. My lewe het van toe af so verander, ek het ʼn loopbaan gekry waarmee ek al regoor die wêreld gesing het.

“Ek is so dankbaar dat ek die wêreld kon sien, en dat die Here hierdie talent aan my toevertrou het. Hierdie talent is spesiaal, en ek wil dit in sy naam gebruik.”

(Foto: Amira Willighagen)

Sy het deur haar skoolloopbaan dikwels ʼn wiskundeklas vir ʼn vlug na ʼn eksotiese land toe verruil, en hoewel sy vandag dankbaar is vir die wêreldkennis wat sy opgedoen het, erken sy dat dit nie altyd maklik was nie.

“Met optredes en konserte was my lewe soms chaoties. ʼn Mens het nie altyd geweet hoe dit gaan uitwerk nie. Van die maande is stil, en ander maande kry ʼn mens amper nie kans om asem te haal nie. Dit is vandag vir my lekker om net op my loopbaan te kan fokus.”

Kyk na Amira se destydse oudisie vir Holland’s Got Talent hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Hierdie Almira mag maar sing en dit sekerlik ‘n Godgegewe talent. Mens kan haar maar net alle voorspoed toewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.