Geniet ware Karoo-gasvryheid by 13de Klein Karoo Klassique

Charl du Plessis is een van die musikante wat by die 13de Klein Karoo Klassique sal optree. (Argieffoto)

Wanneer die winter eers aan Oudtshoorn se deur kom klop het, kan jy maar ook weet dit is weer tyd vir die volgende Klein Karoo Klassique. Dié fees van klassieke musiek word vanjaar vir die 13de keer van 5 tot 9 Augustus op in die Karoo-dorp met sy liefde vir die kunste aangebied.

“Ons moes lank wag om weer ʼn volwaardige Klein Karoo Klassique te hou en vir Vrouedag kan feesgangers uitsien na ʼn langnaweek met ʼn keur van die land se voorste klassieke musikante en besonderse opkomende talent,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Klassique.

Theart verduidelik dat feesgangers nie net kan uitsien na talle voortreflike konserte nie, maar dat die fees ook ʼn visuele kunsprogram, boekgesprekke, wynproe-geleenthede en ander proe-ervarings insluit. Die burgersentrum vorm die hartklop van die fees, met die meeste van die aktiwiteite wat hier sal plaasvind.

Feesgangers sal ook kan kies en keur uit heerlike eet-ervarings en Karoo-gasvryheid by ʼn verskeidenheid restaurante en eetplekke op die dorp en daar is ook verskeie ander Klein Karoo-besienswaardighede om in te pas tydens ʼn besoek aan die fees.

“Ons is dankbaar vir die volgehoue ondersteuning van ons hoofborg, die Rupert-musiekstigting, wat die fees vir die negende keer in 2022 ʼn werklikheid help maak. Hulle stel ons in staat om 12 uiteenlopende klassiekemusiekuitvoerings na die Klein Karoo te bring. Feesgangers kan ook uitsien na musiekbesprekings na afloop van sommige van die uitvoerings.”

Die fees word op Vrydag 5 Augustus geopen met ʼn Klassique-galakonsert, wat ʼn uitvoering insluit van lede van die Kaapstad Opera, die hoogaangeskrewe sopraan Janelle Visagie en pianis José Dias.

Die res van die vyfdagprogram bied onder meer ʼn jazz-konsert saamgestel deur Ramon Alexander, ʼn spesiale galakonsert getiteld Baroque to the Future en uitvoerings deur die Steinway‑pianis Charl du Plessis.

‘n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 klassiekemusiekuitvoerings is beskikbaar teen R1 300, andersins kan enkelkaartjies vir uitvoerings gekoop word. Vriende van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) kwalifiseer vir 5%‑afslag. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, by Pick n Pay-winkels landwyd, of by die KKNK-kantoor.

Besoek www.klassique.co.za vir meer inligting oor die fees se program, asook vir ʼn direkte skakel om jou verblyf deur LekkeSlaap te bespreek. Besoek www.kknk.co.za om ’n vriend van die KKNK te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.