Groot nuus van Taylor Swift by VMA-toekennings

Taylor Swift. (Foto: Dimitrios Kambouris/AFP)

Die Video Music Awards-geleentheid van 2022 het nie net sy kenmerkende, wilde kostuums en pronkerige optredes gehad nie, maar ook groot nuus van een van die wêreld se bekendste sangers ingesluit.

Die 32-jarige popsanger Taylor Swift het haar aanhangers op die punte van hul stoele gehad toe sy die toekenning vir “musiekvideo van die jaar” aanvaar het en aangekondig het dat haar jongste album op 21 Oktober sy langverwagte verskyning sal maak.

Dié album, getiteld Midnights, sal Swift se tiende vollengte album wees.

Die Red Hot Chili Peppers. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Sy was ook een van die aand se grootste wenners en het verder die pryse vir “beste regie” én “beste langformaat-video” vir die musiekvideo van haar lied “All too well (Taylor’s Version)” ontvang.

Dié lied van langer as tien minute verskyn op Swift se heruitgereikte album, Red (Taylor’s Version). Die sanger het reeds haar 2008-album Fearless weer opgeneem sodat sy die regte daarop kan beheer.

“Ek is so trots op dit wat ons gemaak het. Ons sou nie hierdie kortfilm kon maak as dit nie vir julle was nie en sou ook nie my albums kon heropneem as dit nie vir julle was nie. Julle het my aangemoedig om dit te doen,” het Swift op die verhoog gesê.

Dit is ook die derde keer wat die “Shake it off”- sanger “musiekvideo van die jaar” wen.

Harry Styles het sy prys via video ontvang. (Foto: Arturo Holmes/Getty Images via AFP)

Ander groot VMA-wenners het die Latynse sanger Bad Bunny, die voormalige One Direction-sanger Harry Styles, Lizzo, Nicki Minaj, sowel as die Red Hot Chili Peppers – wat die Global Icon-toekenning ontvang het – ingesluit.

Die akteur Johnny Depp het ook ʼn ietwat omstrede verskyning by vanjaar se VMA-toekennings gemaak wat baie sosialemediagebruikers meen net daarop gemik was om internetklets te genereer.

Die 59-jarige se kop is digitaal op die helm van die kenmerkende MTV-ruimtevaarder-gelukbringer geplaas en hy het luidens mediaberigte vir die skare buite die venue tong in die kies gesê dat hy “dié werk vanaand nodig gehad het”.

Sy vreemde verskyning kom byna drie maande ná sy oorwinning in ’n hoogs openbare lasterverhoor teen sy eksvrou Amber Heard.

Van die aand se noemenswaardige toekennings sluit die volgende in:

  • Video van die jaar

Taylor Swift – “All Too Well” (10 Minute Version) (Taylor’s Version)

  • Kunstenaar van die jaar

Bad Bunny

  • Album van die jaar

Harry Styles – Harry’s House

  • Liedjie van die jaar

Billie Eilish – “Happier Than Ever”

  • Beste nuwe kunstenaar

Dove Cameron

Bronne: AFP, Rolling Stone, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.