Gulde geleentheid vir aspirant-liedjieskrywers

Whaden Johannes (Foto: verskaf)

Aspirant-liedjieskrywers kan eersdaags deel word van die ATKV-Crescendo-familie, waar hulle kan volg in sterre soos Anneli van Rooyen en Whaden Johannes se spore.

Om in te skryf vir dié opwindende geleentheid hoef talentvolle hoopvolles slegs een liedjie teen Maandag 31 Januarie by die ATKV-Crescendo in te dien. Hiermee saam moet kandidate ʼn ATKV-inskrywingsvorm en bewys van betaling van inskrywingsgeld ook indien.

Dié ontwikkelingsprogram skop af op 1 Maart na afloop van vier oudisiegeleenthede. Die name van die finaliste sal op dié dag bekend gemaak word.

Dié finaliste sal dan genooi word om ʼn vier dag opleidingsprogram by te woon. Die doel van dié program is om aan die finaliste kennis en kundigheid oor te dra wat hul vaardighede sal slyp en hulle só toe te rus dat hulle tot soveel as 60 oorspronklike of nuwe liedjies kan skryf.

Na afloop van die mentorskapprogram word die finaliste aangewys wat deurdring na die ATKV-Crescendo eindronde, wat ʼn laaste werksessie insluit en afsluit met ’n bekendstellingskonsert.

Luidens ’n verklaring van die ATKV word ’n kursus oor entrepreneurskap in die kunste deur Noordwes-Universiteit Artema as deel van die opleiding aangebied.

Dié kursus poog om kunstenaars as entrepreneurs te bemagtig en te verseker dat hulle hulself finansieel kan onderhou.

Deelnemers kan hulself berus by die feit dat integriteit en karakter die kern van ATKV-Crescendo se opleiding en ontwikkeling is. Dié projek se fokus lê hoofsaaklik by menslike ontwikkeling.

Die span mentors is uit ’n verskeidenheid van musikante en kunstenaars gekies. Elke finalis kan dus weet dat hy of sy die beste moontlike kundigheid en kennis by die mentors gaan kry.

Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, meen dat dié geleentheid nie ’n kompetisie is nie, maar ’n ontwikkelingsprogram.

“Die projek fokus ook daarop om nuwe klanke in Afrikaans te ontdek en alle deelnemers word aangemoedig om in hul eie dialek te skryf en te sing. Met hierdie aanslag verseker die projek dat daar ’n konstante vloei van nuwe talent, nuwe liedjies en nuwe klanke in die Afrikaanse musiekbedryf is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.