Helpende Hand hou konsert wat hoop gee

 lig-konsert-drie-van-die-bestes-mathys-roets-002.jpg

Drie van die bestes – Mathys Roets, Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys. (Foto verskaf)

Drie van die bestes – Mathys Roets, Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys – asook Vernon Barnard en Drihan du Plessis, beter bekend as Prop, tree eersdaags weer by Solidariteit Helpende Hand se LIG-konsert op ten bate van persone met gestremdhede.

Dié konsert volg op die sukses van die SING, HOOP, WEERKLINK-konsert van 2021. Dit is te danke aan Prop dat dié konsert op die planke gebring is. Hy het gedroom die Here praat met hom. Die Here en sy oom het vir hom gesê hoe hulle ʼn groot gehoor van hoop hoor weerklink. Ná hierdie droom het Prop met ʼn gevoel van moedigheid wakker geword. Kort daarna het sy geliefdes hom laat weet dat sy oom oor wie hy gedroom het, in die hospitaal waar hy vir Covid-19 behandel is, oorlede is.

Die konsert is in 2022 onder die vaandel van die Liefde In Gestremdheid (LIG)-konsert aangebied.

“Ons is trots daarop om bekend te maak dat ons weer in 2023 ʼn konsert gaan hou vir persone met gestremdhede. Hierdie jaar word dit die Afrison LIG-konsert genoem. Die beweegrede agter die naam

Vernon Barnard (Foto: Facebook)

Afrison LIG-konsert kom van die studiefonds wat begin is tydens 2021 se konsert. Hierdie studiefonds is gestig om juis persone met gestremdhede die geleentheid te gee om te gaan studeer in verskeie velde en sodoende ook ʼn blywende bydrae te maak in die gemeenskap. Sodoende het dit ons in staat gestel om ons eerste studieleningtoekenning aan ʼn student te bied,” sê Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en die nasionale tak vir mense met gestremdhede, wat die geleentheid reël.

Oosthuizen sê die hoofdoel van die konsert is om hoop te saai. “Dis ʼn simboliese tree van hoop wat persone met gestremdhede gee en hardop sê: ‘As ek kan, kan jy ook; daar is Liefde In Gestremdheid’.”

Die Afrison LIG-konsert vind op 28 Julie op Sol-Tech se Monumentpark-kampus plaas.

Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as die sanger en liedjieskrywer Prop. (Foto verskaf)

“Ons wil persone met gestremdhede help om hulle stem te laat hoor. Ons wil ook geld insamel vir aksies en projekte wat werklik ʼn volhoubare verskil kan maak in hulle lewens. Laastens wil ons geld insamel vir die LIG-studiefonds sodat ons persone met gestremdhede die geleentheid kan gee om ook te gaan studeer.”

Die publiek wat nie die vertoning kan bywoon nie, maar steeds ʼn bydrae wil maak, kan die woord “LIG” SMS na 45763 en Helpende Hand sal jou skakel en vertel hoe jy ʼn volhoubare verskil in hierdie gemeenskap kan maak. Vir meer inligting besoek www.ligkonsert.co.za.

Oosthuizen bedank die borge, Afrison en AfriforumTV en Reinhardt Transport vir hul ondersteuning. Maroela Media is die mediavennoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.