Heuwels Fantasties, Demi Lee het iets om oor huis toe te skryf op Top-20

Ricus Nel (Foto: Verskaf)

Die Heuwels Fantasties en Demi Lee Moore se snit, “Niks om oor huis toe te skryf nie”, maak sy verskyning op die tweede plek in vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Hulle lied het veral goed gevaar op stroomdienste soos Spotify, Appel Music en YouTube nadat dit uitgereik is.

Ricus Nel se “Khaki” maak ook sy toetrede tot die Top-20 op nommer 9. Die musiekvideo van dié enkelsnit is alreeds meer as 57 000 keer gekyk.

Appel oorheers steeds die Top-20 met vier liedjies op die trefferparade.

In hierdie week se Top-20 is daar twee liedjies wat klim, tien wat hul plekke verloor, vyf wat onveranderd bly en drie nuwe liedjies wat op die Top-20 verskyn.

 

1. Appel – “Foute”
2. Die Heuwels Fantasties saam met Demi Lee Moore – “Niks om oor huis toe te skryf nie”
3. Jay – “Stoutgat”
4. Barto – “Impulsief”
5. Eloff – “Koue kole”
6. Barto – “Vlam in die wind”
7. Die Heuwels Fantasties saam met Appel – “Nora Vlok”
8. Appel – “Diana”
9. Ricus Nel – “Khaki”
10. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
11. Barto – “H2Oë”
12. Appel – “Suikerbos”
13. Dodo Nyoka – “Foto’s”
14. Bernice West – “Lyfie”
15. Jan Jan Jan – “Hy’s ʼn lekker ou”
16. Lisie Basson – “#23”
17. Loufi saam met Jack Parow – “Oh la la”
18. Irene-Louise van Wyk – “Stout vir”
19. Dirk van der Westhuizen saam met Loufi – “Dit breek my brein”
20. Die Piesangskille – “Lyntjie”

Nuwe uitreikings:

Jacob Swann het pas sy nuutste enkelsnit, “Vrydagaand”, uitgereik. Hy het die eerste keer in die kollig beland toe hy en Karlien van Jaarsveld sy liedjie, “Lief”, saam as ʼn duet uitgereik het. Dié liedjie was op verskeie radiotrefferparades as ook op Maroela Media se Top-20. Jacob is ook pas verwelkom by die Universal Musiek-span.

Jacob Swann.

Om hals-oor-kop verlief en verlore te wees, is juis die gevoel wat Zoé in haar nuutste enkelsnit, “Lief hê”, wou vasvang. Sy verduidelik dat die liedjie ook oor die wittebroodfase van ʼn verhouding gaan waar beide mense die skoot hoog deur het en dit voel asof hierdie liefde vir ewig wil aanhou.

Ander liedjies wat uitgereik is, is C-Storm met “Hoekom is die hemel blou”, Amandala met “Bloukop koggelmander”, Marietjie du Plessis met “Hartsgalery”, Francois van Coke saam met Tasché se “As ek weg is”, Raaf met “As en stof”, Augusta Zietsman met “Ontydig”, Ricus Nel met “Khaki”, Jean Hendry met “Middernag ongetem”, Lallie met “Plaasmeisie”, Irene-Louise van Wyk met “Stout vir” en Akoestiek met “Saam is ons beter”.

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.