Instrumentale snitte ook met Aitsa-benoemings vereer

Scheppel, die bekende violis, is in die kategorie vir instrumentale liedjie van die jaar benoem.

ʼn Musiekstuk hoef nie lirieke te hê om luisteraars te roer of ʼn blywende indruk te laat nie.

Vanjaar vereer Pretoria FM se Aitsa-musiektoekennings ook dié liedjies in die kategorie vir beste instrumentale liedjie van die jaar.

Die vioolspeler Scheppel is benoem vir sy instrumentale weergawes van Fatman se “Dorp toe” en Francois van Coke en Karen Zoid se “Toe vind ek jou”.

Jacques Rautenbach is ook drie keer benoem, vir die snitte “Take me Home”, “It’s All In Vein” en “My Christmas Wish”.

Die gewilde Vatvas Dansorkes se liedjie “Vatvas se blues” is ook benoem.

Die Aitsas is deur Pretoria FM geskep as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

Jacques Rautenbach. (Foto: Verskaf)

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, word tans op Pretoria FM uitgesaai. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Stemme vir jou gunstelingliedjie uit dié benoemings kan op Pretoria FM se webwerf gemaak word.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria.

Kaartjies na die toekenningsgeleentheid kan by iTickets aangeskaf word. Die kaartjies kos R250 per persoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.